ʼn Mylpaal vir Midmar

Mark Fish. Foto: Facebook.

Pak jou partytjiehoed saam met jou swemkappie in voordat jy die pad na KwaZulu-Natal aandurf; die Midmarmyl-oopwaterswembyeenkoms vind immers hierdie naweek vir die 50ste keer plaas.

En tussen die duisende swementoesiaste sal Mark Fish ook sy vryslagvaardighede uitstal.

Die voormalige Bafana Bafana-speler is al ʼn bekende gesig by die Midmardam naby Pietermaritzburg en hy sal die swemavontuur vir die sesde keer aanpak. Hy sal terselfdertyd ook geld vir liefdadigheid insamel.

“Die byeenkoms het ʼn spesiale plekkie in my hart en elke liewe swemsessie was ʼn unieke ervaring gewees. Die organiseerwerk is uitstekend, terwyl die deelnemers almal gemotiveerd en vriendelik is,” het die sokkerster gesê.

Die 48-jarige Fish het 62 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel en hy was ʼn lid van Neil Tovey se Bafana Bafana-span wat met die Afrikabeker-louere in 1996 weggestap het. Daarbenewens het hy ook vir Bolton Wanderers, Lazio en Charlton Athletic in Europa gespeel.

Tog sorg die Midmarmyl waarskynlik vir net so ʼn groot glimlag as sy sokkerprestasies.

Foto: Twitter.

“Ek het dit ʼn paar keer individueel aangepak, ander kere het ek saam met vriende geswem en my laaste probeerslag was saam met my dogter. Ek probeer om stelselmatig my familie en vriende deel van die aksie te maak.”

Hoewel Ryk Neethling nie weer hierdie naweek by die beginpunt sal aantree nie, is hy vol lof vir die Midmarmyl; ʼn byeenkoms waar hy die eliteresies in 1994, 1995 en 2001 gewen het.

Volgens die Olimpiese gouemedaljewenner dra die byeenkoms se ryke geskiedenis tot sy uniekheid by.

“As jy op ʼn Sondagoggend die pad na die dam aandurf, begin die skoenlappers in jou maag rondfladder sodra jy die verkeer sien; dit is ongetwyfeld ʼn spesiale gevoel,” het Neethling gesê.

“Dit is ʼn wonderlike naweek waar jy nie net ou kennisse en spanmaats raakloop nie, maar ook nuwe vriende maak. Ek dink nie daar is ooit ʼn slegte ervaring by die Midmar nie.”

Die aksie begin reeds Saterdag om 08:15 en die laaste sessie word Sondag vanaf 12:15 beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.