’n Nadal-lose Wimbledon, Olimpiese Spele

Rafael Nadal Foto Daniel Leal-Olivas/AFP.

Rafael Nadal sal nie vanjaar deel van die aksie by Wimbledon en die Olimpiese Spele wees nie. Die 35-jarige tennisster het die nuus vandag op sy Twitter-rekening gedeel.

“Dit is nooit ’n maklike besluit om te neem nie, maar nadat ek na my lyf geluister het en met my span gesels het, weet ek dat dit die regte een is,” het hy geskryf.

Nadal het in 2008 en in 2010 met die silwerware op Wimbledon weggestap, terwyl hy ook al goud by die Olimpiese Spele gesmaak het.

“Die Olimpiese Spele beteken baie vir my en dit is iets wat elke sportman en -vrou wil ervaar. Ek was bevoorreg genoeg om drie keer deel van die aksie te wees, terwyl ek ook al die vlag vir my land gedurende die openingseremonie gedra het.”

Volgens die wenner van 20 Grand Slams is die uiteindelike doel om sy loopbaan te verleng en om tennis van ’n hoogstaande gehalte te speel terwyl hy sy doelwitte jaag.

Rafael Nadal spog met sy goue medalje. Foto: Luis Acosta/AFP.

Die Spanjaard se opmars na sy 14de Franse Ope-titel is vroeër deur Novak Djokovic in ’n briljante halfeindstryd in die wiele gery.

“Dit is die grootste voorreg om teen Rafa hier te speel,” het Djokovic ná die wedstryd gesê. “Elke keer wanneer jy teen hom speel, weet jy dat jy Everest sal moet uitklim om uiteindelik met die louere weg te stap. ’n Mens sukkel om woorde te vind om sy vertonings in Parys te beskryf.

Die Franse tennisowerhede het selfs ’n standbeeld van hom by Roland-Garros opgerig – ’n lewensgroot getuigskrif van sy ongekende vermoë op die kleibaan.

“Ek dink nie ons gaan weer iets soortgelyks in ons leeftyd sien nie. Sy statistieke op Roland-Garros sorg vir ongelooflike leesstof en dit sal nie sommer ooit verbeter word nie,” het sy landgenoot Roberto Bautista Agut gesê.

Dan het Martina Navratilova by hom gepleit om nooit uit te tree nie.

“Mense gaan eendag boeke oor jou loopbaan skryf om ander te probeer aanspoor om soos jy te wees. Ek het oneindige respek vir jou en is mal daaroor om jou te sien speel. Trouens, ek wens dat jy nooit sal uittree nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elinette ·

Ag, tog – ou Rafa Faffa se lus is geblus. Hy raak nou oud – tyd om plek te maak vir jonger spelers soos Tsitsivas om bietjie “show” te vang. Hy het nou genoeg geld gemaak.

Moedeloos ·

Ek waarborg jou jy sal nie toernooi vir toernooi kan uithou soos hulle nie. Het jy al vir 3-4 ure fisiese harde werk aanmekaar gedoen sonder rus. Natuurlik raak almal ouer gelukkig besef hulle dit en luister na hul liggaam. Ek haal my hoed af vir sportmense soos hulle.

Hendrik Marthinus ·

Koning Nadal
Die nederigste sportman ooit, Sal nooit n rakket stukkend slaan of na n verloor kla dat hy gespeel het met n besering etc nie.
As n Djocovic verloor was hy altyd beseer of siek, en slaan rakette stukkend.
Hoop Nadal gou weer op die tennisbaan, sonder hom maar nie n lekker sport om te kyk nie.

Jack Russ1 ·

Nee, hy het nie op die baan ‘n rakket stukkend geslaan nie, maar het wel in die kleedkamer nadat hy teen Gaston Gaudio verloor het in 2005

Kathleen ·

ag dit is nie ‘n verlies nie , ek geniet dit om na hom en Djokovic te kyk , 2 van die bestes op die tennisbaan , maar ai die lekkerte toe Djokovic hom uit die finaal gehaal het op Roland Garos , Novak natuurlik my gunsteling ! I love it when a plan comes together !

Moedeloos ·

Daar is 2 mense wat my laat tennis kyk. Nadal en Federer. Nou is Nadal uit so Federer is my gunsteling vir Wimbledon. Natuurlik die nuwe Italianer Stefanos ook

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.