’n Pluimpie vir die Proteas

Die Spar Proteas. Foto: Netball SA/Twitter

Volgens die jongste ranglys is die Proteas steeds die vyfde beste netbalspan ter wêreld en ondersteuners kan solank hul vere regskud: Daar wag nog hope aksie op die horison!

Die Statebondspele word binnekort in Birmingham aangebied, terwyl Kaapstad volgende jaar gasheer vir die Wêreldbeker-toernooi sal speel.

En Dorette Badenhorst glimlag nie net oor die besige en opwindende kalender nie; sy is ook trots op haar span se vertoning in die onsekere Covid-19-tydperk.

“Ondanks die pandemie het die Proteas steeds baie wedstryde gespeel en vir die eerste keer ooit is die punteverskil minder as 20 tussen ons en Jamaika op die wêreldranglys,” het die nasionale netbalafrigter gesê.

Die Proteas het onder meer skoonskip in die Afrikanetbalbeker gemaak, terwyl hulle met elke wedstryd beter in die afgelope vierhoekige reeks teen van die wêreld se voorste netballande in Londen gespeel het.

Die Suid-Afrikaners het veral teen Nieu-Seeland in hul finale wedstryd uitgeblink en hul aggressiewe benadering het die Kiwi’s op die agtervoet geplaas.

Dan sorg die wedstryde wat spelers soos Lefébre Rademan, Ine-Marí Venter, Zanele Vimbela en Shadine van der Merwe in die Vitality-netbalreeks insluit ook vir broodnodige ondervinding teen van die beste internasionale spelers.

“Ons sal nog ’n oefenkamp hou wanneer ons oorsese spelers in Junie terug is. Engeland is dan ook hier vir ’n paar oefenwedstryde in die Kaap.”

Daarna sal die Proteas ’n paar oefenwedstryde in Brittanje speel voordat die Statebondspele op 28 Julie in alle erns begin.

“Ons het Wallis genader om te hoor of ons teen hulle kan speel, terwyl ons ook beplan om weer teen Engeland kragte te meet.”

  • Jongste netbalranglys (soos op 1 Maart 2022):
  1. Australië: 195 punte
  2. Nieu-Seeland: 190 punte
  3. Engeland: 182 punte
  4. Jamaika: 176 punte
  5. Suid-Afrika: 157 punte
  6. Uganda: 127 punte
  7. Malawi: 123 punte
  8. Wallis: 120 punte
  9. Skotland: 117 punte
  10. Trinidad en Tobago: 100 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.