’n See van oranje toeskouers kan Verstappen aanvuur

Max Verstappen jaag verby sy ondersteuners tydens die Oostenrykse Grand Prix. Foto: Joe Klamar/AFP.

’n See van oranje toeskouers kan hierdie Sondag vir Max Verstappen aanvuur wanneer die Nederlandse Grand Prix vir die eerste keer in 36 jaar op die Zandvoort-renbaan wegspring.

Die 23-jarige Red Bull-renjaer het verlede week se omstrede Belgiese Grand Prix gewen en hy is nou net drie punte agter Lewis Hamilton op die jaerspunteleer.

“Dit sal baie spesiaal wees om in Nederland voor my tuisskare in aksie te wees, maar as renjaer is dit ook ’n goeie uitdaging om op ’n onbekende renbaan jou beste te gee,” het Verstappen gesê.

Kaartjies vir die wedren het soos soetkoek verkoop en daar sal Sondag na verwagting 70 000 toeskouers langs die baan wees. En volgens die weervoorspelling word daar darem nie reën verwag nie.

“Dit was wonderlik om soveel ondersteuners in Oostenryk en België te sien en ek hoop ons kan hierdie naweek met ’n goeie vertoning vorendag kom.”

Volgens Verstappen kan die voorafgaande kwalifiserende sessie weer eens ’n deurslaggewende rol speel.

“Ek dink dit sal moeilik wees om iemand op die baan verby te steek, maar die kwalifiserende rondes beloof om baie vinnig te wees.”

Mercedes is egter oorgehaal om die bordjies te verhang en Toto Wolff (spanbaas) het juis gewaarsku dat Hamilton sommer vanuit die staanspoor sy stem sal wil dik maak.

Dan meen David Coulthard dat die Hamilton/Verstappen-tweestryd onder die beste in F1-geskiedenis tel; dit is so te sê die Ayrton Senna teen Alain Prost van die hedendaagse era.

“Dit is bloot ’n kwessie van tyd voordat Max die wêreldkampioen word. Dit is hoe goed hy is,” het die 50-jarige Skot gesê.

Die Nederlandse Grand Prix begin Sondag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.