’n Skoen wat vir Roger Federer pas

Foto: Twitter.

As tennislegende het Roger Federer talle hoogtepunte op die baan bereik, maar tussen al sy prestasies deur is hy ook bewus van die jongste mode.

Die 38-jarige Federer het ’n aandeel in die Switserse skoenvervaardiger On bekom en ná ’n hele rukkie se gewoel en gewerskaf agter die skerms, is die Roger Center Court O-reeks bekend gestel.

Federer het die tekkies op YouTube bemark en sommer terselfdertyd ’n paar vrae oor die Olimpiese Spele beantwoord.

As speler was hy nog altyd opgewonde oor die Olimpiese Spele en hy was gretig om deel van die 2020-aksie te wees

Maar die wêreldwye Covid-19-pandemie het egter ’n stokkie voor vanjaar se byeenkoms gesteek en die Tokio-spele is tot Julie 2021 uitgestel.

“Ek is mal oor Tokio; dit is ’n wonderlike plek. Natuurlik is dit ’n groot teleurstelling dat die Spele uitgestel is, maar ons is vol hoop dat dit wel volgende jaar kan voortgaan. Dit is my doelwit om deel van die Olimpiese Spele te wees; dit het nog altyd vir ’n ongelooflike storie gesorg,” het Federer gesê.

Hy het onder meer twee medaljes – goud as ’n dubbelspelspeler saam met Stan Wawrinka en silwer in die individuele kompetisie – verwerf  en hy het sy vrou by die 2000-skouspel in Sydney ontmoet.

Tog was sy trotsste oomblikke toe hy in 2004 en in 2008 die Switserse vlag tydens die openingseremonies gedra het. “Dit is een van die grootste vorms van eerbetoon wat jou as sportman te beurt kan val.”

Foto: Twitter.

Hy is net so opgewonde oor sy skoenreeks.

“Ek is nou al geruime tyd moeg daarvoor om ongemaklike skoene te dra. Hierdie leefstylreeks is baie spesiaal vir my; ek het nog altyd van die vorm gehou en wou dit deel van my poging maak.”

En hou moed as jy kopkrap oor die skoonmaakwerk wat op jou wag as jy ’n paar spierwit Roger-tekkies aanskaf: Ander kleure is ook op pad.

“Ek mag nog nie veel geheime verklap nie, maar daar is beslis nog ’n paar reekse op pad!”

Slegs 1 000 pare is vervaardig en die skoene sal amptelik by die Dover Street Market-takke bekend gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae