ʼn Skoolhoof met ʼn passie vir tennis

Nico Coetzee, ’n skoolhoof met ’n passie vir tennis. Foto: Verskaf.

Die oë van die tenniswêreld is weliswaar vandag op Melbourne gerig waar Novak Djokovic en Stefanos Tsitsipas in die eindstryd van die Australiese Ope kragte meet.

Maar – soos wat dit met enige sportsoort gaan – lê die ware hartklop van die spel nie noodwendig by die groot sterre en die belangrike toernooie nie.

Aikôna, dit is veel eerder die gewone spelers wat gereeld die buitengewone vermag wanneer hulle pleinweg net ʼn raket optel en speel.

En jy sal sukkel om wêreldwyd ʼn skool te vind waar die tennisadrenalien sterker deur die are bruis as by Laerskool Tygerpoort in Pretoria – ʼn hele 10 344 km weg van die eindstrydaksie in Melbourne.

Want in Nico Coetzee spog die skool met ʼn hoof wat ʼn groot liefde vir enige sport het, maar verál vir tennis.

Sedert hy die hoofleisels in 2007 vasgevat het gaan Tygies se tennis van krag tot krag en ʼn paar SA Skolespelers het al op een van die skool se agt bane afgeslaan.

“Ons bied gereeld prestige-wedstryde aan en doen waarskynlik meer moeite vir tennis as meeste skole. Maar dit is beslis nie ten koste van ander sportsoorte nie,” sê hy een Vrydagoggend in sy kantoor kort ná ʼn personeelvergadering.

Frans Cronjé (regs) saam met Johann Coetzee. Foto: Verskaf.

Goeie afrigting is ongetwyfeld ook een van die hoekstene van sukses en Frans Cronjé – Isabella Kruger se oom – vat die leisels by die skool vas. Coetzee beskou hom as een van die beste afrigters in die land.

Teen sy kantoormure mure hang daar juis baie foto’s; herinneringe van sy dae as die voorsitter van die provinsie se laerskooltennisvereniging, sowel as die twee oorsese toere saam met die nasionale laerskoolspan na Egipte en Mauritius.

Tussendeur is daar ook kiekies van sy seun Johann – deesdae die Noordwes-Universiteit se no. 1-speler.

Jy kan die trots in sy stem hoor wanneer hy nie net oor sy seun se prestasies op die tennisbaan praat nie, maar ook oor dié van die skool.

“Tygerpoort is bevoorreg om die eindstryd van die nie-amptelike nasionale kampioenskap reeds twee keer te wen – een keer teen Laerskool Stellenbosch en die ander keer teen Grey Kollege.”

Volgens Coetzee is toewyding en deursettingsvermoë die sleutel tot sukses op die baan; jy gaan immers een of ander tyd met teleurstelling te doen kry.

Die talentvolle Johann Coetzee in aksie op die baan. Foto: Verskaf.

Tennis is terselfdertyd ook nie sommer so ʼn hierjy sportsoort nie – dit kan jare vat om al die verskillende houe en strategieë te bemeester.

Maar waar kom sy passie vir die spel vandaan?

“Ek het so ʼn bietjie op laerskool gespeel, maar dit was eers toe ek klaar was met matriek dat ek die spel meer ernstig begin opneem het.”

Hoewel hy erken dat dit toe reeds eintlik ʼn bietjie té laat vir hom was om ʼn professionele loopbaan te volg, het hy in sy pa (ds. Nico Coetzee) se spore gevolg.

“Hy het ook eers later in sy lewe afrigting ontvang, maar dit is danksy hom dat ek ʼn liefde vir die spel ontwikkel het.”

Danksy tennis het Coetzee al baie nuwe vriende gemaak. Foto: Verskaf

Deesdae probeer hy om ten minste twee keer per week self op die baan te wees, terwyl sy raket altyd in die kattebak is wanneer die lang pad aangedurf word.

“Dit is ʼn ongelooflike sosiale sport en ek soek altyd die tennisklubs uit wanneer ons met vakansie is. Ek het al baie mense só leer ken en nuwe vriende gemaak.”

Ja-nee, om vriendskappe te bou en om ʼn verskil in jong speler se lewens te maak is ongetwyfeld die hartklop van die sport.

En op sy manier beteken Nico Coetzee waarskynlik net soveel vir die ontwikkeling van tennis as ʼn Djokovic of ʼn Tsitsipas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.