’n Tennis-lokettreffer wag in Kanada

Daniil Medvedev en Nick Kyrgios speel vandag in die tweede ronde van die ATP-toernooi in Montreal. Foto: William West/AFP.

Kry solank die springmielies gereed want vandag se tweestryd tussen Daniil Medvedev en Nick Kyrgios in Montreal beloof om ’n treffer te wees.

Al twee spelers het onlangs ’n eindstryd gewen: Medvedev het met Cameron Norrie in Mexiko afgereken, terwyl Kyrgios met die louere in Washington DC weggestap het.

Hulle het al vantevore drie keer teen mekaar gespeel met Kyrgios wat twee van die wedstryde gewen het. Tog is dit Medvedev wat laaste gelag het toe hy die vurige Aussie in Melbourne geklop het.

Die eindtelling was toe 7-6, 6-4, 4-6 en 6-2 in die Rus se guns.

Maar sedertdien het Kyrgios al tot die eindstryd van ’n groot Grand Slam-toernooi op Wimbledon gevorder, terwyl hy ook die eerste speler in 53 jaar geword het om die enkelspel- sowel as die dubbelspeltrofee in Washington omhoog te hou.

Boonop het hy sy openingswedstryd in Montreal teen Sebastian Baez met 6-4 en 6-4 gewen.

“Ek is bly dat ek tennisliefhebbers kan gee waarna hulle soek: Kyrgios teen Medvedev. Dit gaan egter nie ’n maklike wedstryd wees nie. Ek weet dat ek fisiek nie op my beste is nie, maar dan het Daniil ook onlangs in ’n eindstryd gespeel en hopelik is hy ook nog ’n bietjie moeg,” het Kyrgios gesê.

Hy het egter onderneem om sy beste tennis teen die wêreldno. 1-speler te speel, terwyl hy ook sy raket vir die heuningkwas verruil het.

“Ek wil die wedstryd geniet en my bes gee. Dit is nie die einde van die wêreld wanneer jy teen Daniil Medvedev verloor nie. Die meeste spelers verloor teen hom.”

Op sy beurt het Medvedev ’n toernooi of twee weens ’n mantelvliesbreuk-operasie misgeloop, terwyl hy ook nie op Wimbledon in aksie was nie.

Hy het in Mexiko die 250ste wedstryd van sy professionele loopbaan gewen, terwyl sy eindstryd-vertoning teen die Brit Cameron Norrie ook vir ’n welkome selfvertroue-hupstoot gesorg het.

“Ek is bly dat ek ’n trofee op ’n harde baan kon wen. Ek wou juis in Mexiko bepaal hoe my spel met ander spelers vergelyk wat meer wedstrydtyd agter die blad het. Ek speel tans met baie selfvertroue en is opgewonde oor die komende toernooie,” het Medvedev gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.