ʼn Wen is ʼn wen – Novak

Novak Djokovic vier fees nadat hy die tweede stel beklink het. (Foto: Ibrahim Ezzat/NurPhoto via AFP)

Die eerste twee stelle was dalk ʼn wroeging, maar Novak Djokovic het steeds genoeg gedoen om Alejandro Davidovich Fokina met 7-6, 7-6 en 6-2 in Parys te klop.

Die Serwiër sal nou in die vierde ronde van die Franse Ope teen Juan Pablo Varillas van Peru te staan kom.

“Ek het vooraf geweet dat hierdie ʼn baie moeilike wedstryd gaan wees en ons het toe drie uur aan slegs twee stelle spandeer. Hy beskik oor ongelooflike veggees en as speler is daar nie veel swak punte nie,” het Djokovic gesê.

Die wêreldnommerdrie-speler het, nadat hy die tweede stel al sukkel-sukkel beklink het, uiting aan sy emosies gegee en hard geskree terwyl hy sy gebalde vuis in die lug swaai.

Nodeloos om te sê het sommige van die toeskouers nie die gebaar geniet nie en hulle het hom uitgejou.

“ʼn Wen is ʼn wen. As ek die tweede stel verloor het, sou ons waarskynlik vir vyf uur op die baan gewees het. ʼn Mens moet egter gereed daarvoor wees want dit is immers hoe dinge in ʼn Grand Slam-toernooi kan verloop.”

Die tweemalige Parys-kampioen weet egter hoe om goeie tennis in die belangrikste oomblikke van ʼn wedstryd te speel en hy het die Spanjaard met sy puik verdedigingswerk uitoorlê.

Davidovich Fokina het sekerlik in die derde stel gedink dat hy met ʼn hele paar wenhoue vorendag gekom het, net om in afgryse te kyk hoe sy 36-jarige teenstander die bal op ʼn manier terugslaan.

“Jy moet in jouself glo en die beste van elke situasie maak. Ek is trots op vandag se vertoning,” het Djokovic na afloop van die wedstryd gesê.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Denis Shapovalov met 6-1, 6-4 en 6-2

Juan Pablo Varillas klop Hubert Hurkacz met 3-6, 6-3, 7-6, 4-6 en 6-2

Stefanos Tsitsipas klop Diego Schwartzman met 6-2, 6-2 en 6-3

Lorenzo Musetti klop Cameron Norrie met 6-1, 6-2 en 6-4

Novak Djokovic klop Alejandro Davidovich Fokina met 7-6, 7-6 en 6-2

Lorenzo Sonego klop Andrey Rublev met 5-7, 0-6, 6-3, 7-6 en 6-3

Aryna Sabalenka klop Kamilla Rakhimova met 6-2 en 6-2

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.