’n Wimbledon-titel vir Federer se 40ste verjaardag?

’n Illustrasie van Federer se Wimbledon-titels deur AFP Photo.

Roger Federer vier in Augustus sy 40ste verjaardag. En die perfekte verjaardaggeskenk sal ongetwyfeld nóg ’n Wimbledon-titel wees.

Of hy dit egter sal kan doen, is ’n ope vraag.

Die Switserse tennislegende het hom aan die Franse Ope onttrek om sy lyf ’n blaaskans vóór Wimbledon, sy gunstelingtoernooi, te gee. ’n Kort rukkie daarna het die 20-jarige Felix Auger-Aliassime hom vroeg in die Noventi-ope in Duitsland uitgeskakel.

Nogal op ’n grasbaan.

Om ’n lang storie kort te knip – wanneer Wimbledon op 28 Junie begin, sal Federer net agt wedstryde agter die blad hê sedert hy sy terugkeer ná sy knieoperasies gemaak het. En volgens Todd Woodbridge is dit te min.

“Ek dink wat fiksheid betref is Roger piekfyn, hy het net vooraf hopeloos te min wedstryde gespeel,” het die voormalige dubbelspelspeler gesê.

Foto: Carl de Souza/AFP.

Toegegee, hy sou waarskynlik ’n paar wedstryde meer gespeel het as dit nie vir Auger-Aliassime was nie.

“Die hele rehabilitasieproses het my nie veel gepla nie. Ek kon tyd saam met my gesin deurbring en dit is altyd iets om voor dankbaar te wees. Dit is egter wanneer jy terug op die baan is waar die negatiewe gedagtes begin insluip. ’n Mens is nog honger vir sukses, maar jy is teleurgesteld oor ’n hou of die uitslag van ’n wedstryd,” het Federer ná daardie tweestryd gesê.

Volgens Woodbridge het die gebrek aan toeskouers ook die Switserse speler in Duitsland gekniehalter.

“Roger speel beter wanneer die toeskouers hom aanmoedig. Ek vermoed dat sy teenstanders ook deeglik bewus is van die feit dat hy meer ondersteuning as hulle geniet.”

Daar is darem ’n tikkie goeie nuus vir Federer: Daar word toeskouers by Wimbledon toegelaat en as hy die eindstryd sou haal, mag al die sitplekke gevul word.

Volgens Woodbridge is Novak Djokovic egter die gunsteling om met die louere weg te stap.

“Al vier Grand Slam-titels en die Olimpiese goue medalje is beslis op die spel vir Novak. Hy is ’n atleet wat op ’n spesifieke doelwit fokus en dinge gedoen kry.”

Kan Djokovic dus die rede wees om ’n ander verjaardaggeskenk vir Federer te soek?

Ja, volgens Woodbridge. Maar Federer het al vantevore ’n haas uit ’n hoed gepluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sara ·

My kaartjies vir die finaal is klaar gekoop. Kan nie wag nie! Kom Roger!

Hendrik Marthinus ·

Nee wat hy moes op Sy prime uitgetree het 5 jaar of selfs langer terug
Was briljant maar iets nie lekker met hom wat net nie Sy rakket Kan wegsit nie
Plaas hy soos in golf op senior toernooi speel.
Nadal moet ook na Franse ope nou besef Sy tyd klaar om grand slams te wen
Net Djocovic Kan tans met die jong garde meeding, Alhoewel ek Dink hy is nie so gewild soos Federer en Nadal nie
Die madame Serena Williams dieselfde as Roger, Kan net nie besef die einde het gekom nie

Dirk Mostert ·

Wat doen tennisspelers, golfspelers en beroepsvissermanne na aftrede?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.