Ná vyf titels kondig Fraser sy uittrede aan

Mat Fraser. Foto: Twitter.

Mat Fraser, die man wat as ’n individuele atleet die CrossFit Spele vyf agtereenvolgende jare gewen het, het sy uittrede aangekondig.

Die 31-jarige Fraser het in 2014 en in 2015 tweede ná Rich Froning en Ben Smith by die Spele klaargemaak, maar sedert 2016 het hy nog elke jaar op die hoogste plek van die podium gestaan.

“Vir die afgelope agt jaar was my daaglikse roetine min of meer dieselfde: Word vroeër wakker as wat ek eintlik wou en begin dadelik te oefen. Ek moes baie keer nee sê vir vakansies en uitstappies saam met my verloofde; alles in ’n poging om nie ’n enkele oefensessie mis te loop nie,” het Fraser gesê.

Volgens Fraser het hy in die paar weke tot die aanloop van die Spele sy gewone lewe heeltemal opsy geskuif.

“Ek het byvoorbeeld nie meer met die motorfiets na die gimnasium gery nie en ek het opgehou om skerp messe te gebruik wanneer ek eet. Dit was net nie daardie risiko van 0,1% werd dat ek myself dalk sou seermaak en my voorbereiding in die wiele ry nie.

“Ek het ongetwyfeld die vrugte van harde werk gepluk, maar nou is dit tyd dat my besluite geneem moet word op grond van hoe dit my familie en vriende beïnvloed; en nie slegs my vertonings nie.”

Rich Froning. Foto: Twitter.

Hoewel Fraser en Froning nie gereeld in direkte kompetisie was nie, het hul sogenaamde tweestryd gereeld die hoofopskrifte van CrossFit-webblaaie gehaal.

Froning (33) het sy individuele uittrede in 2014 aangekondig, kort nadat hy sy vierde agtereenvolgende Spele-titel verower het. As die leier van die CrossFit Mayhem-span het hy egter nog vier verdere goue medaljes in spanverband gewen.

Froning het sy aanlag op die Spele-titel haarfyn beplan: Hy het altyd net genoeg gedoen om beter as sy teenstanders te wees. Daarteenoor het Fraser met elke liewe oefensessie verwoesting gesaai.

Mat Fraser en Tia-Clair Toomey. Foto: Twitter.

In sy eerste Ope-kompetisie het hy gesukkel om net ’n paar burpees agtereenvolgens te doen. In 2020 het hy die Spele met 545 punte gewen – die meeste in die geskiedenis van die sport.

“Hierdie was ʼn moeilike besluit. CrossFit is hoe ek my beste vriende, sakevennote en selfs my vrou ontmoet het. Maar terselfdertyd was dit ook ’n maklike een. Afgesien van ’n paar weke in Augustus het my hele wêreld rondom die sport gedraai.”

Volgens Fraser sal hy binnekort sy eie YouTube-kanaal van stapel stuur.

  • Fraser se vertonings by die CrossFit Spele:

2014: Tweede (Rich Froning eerste)

2015: Tweede (Ben Smith eerste)

2016: Eerste

2017: Eerste

2018: Eerste

2019: Eerste

2020: Eerste

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jean ·

Ouderdom en crossfit saam werk nie, jog mense wen dit altyd (onder 30)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.