Sport het karakters soos die vurige Aussie-tennisspeler Nick Kyrgios nodig, maar dan moet hy ook weet waar om die streep te trek.
Dink maar terug aan jare gelede toe John McEnroe al wat ʼn tennisskeidsregter oorhoops gehad het.
Maar McEnroe het 77 enkelspeltitels gewen, wat sewe Grand Slams ingesluit het. As dubbelspelspeler het hy 78 titels gewen, wat nege Grand Slams ingesluit het.
Daar is ʼn fliek oor McEnroe gemaak, ʼn liedjie oor hom het die treffersparade gehaal en hy is vandag ʼn uiters suksesvolle afrigter, kommentator en mentor van jong spelers – omdat hy geweet het waar en wanneer om op te hou, ondanks sy vurige humeur en talle uitbarstings.
Maandag in Melbourne het Kyrgios sy ongelooflike talent teen die Spaanse matador Rafael Nadal uitgestal voordat hy in vier stelle met 6-3, 3-6, 7-6(8/6) en 7-6(7/4) uitgeskakel is.
Ná die wedstryd het Nadal, wat voor die kragmeting nie ʼn stel verloor het nie, Kyrgios geloof… mits hy voortgaan om met dieselfde houding te speel.
Kyrgios was tydens opwarming al in die kollig toe hy baie emosioneel met ʼn Lakers-basketbalhemp van een van sy groot helde, die Amerikaner Kobe Bryant, opgewarm het. Bryant het tragies saam met sy 13-jarige dogter in ʼn helikopterongeluk omgekom en Kyrgios was baie emosioneel.
Kyrgios het tydens die wedstryd alles in sy arsenaal gebruik om Nadal te probeer breek. Daar was ʼn onderarm-afslaan, stadige valhoutjies, skitterende afslane en terughoue, ʼn gebreekte raket ná ʼn uitbarsting.
Dit was ʼn epiese stryd met skitterende houverwisselings.
Maar dit was nie genoeg om Nadal, wat nou teen die Oostenryker Dominic Thiem speel, van spoor af te dwing nie.
Maar gee kans, oor ʼn jaar of twee/drie wanneer die Groot Drie gaan uitspan, kan Kyrgios saam met ander Jong Turke soos Stefanos Tsitsipas, Danill Medvedev, Alexander Zverev en Thiem oorheers.
Nog ʼn vorige kampioen wat beïndruk het, was die Switser Stan Wawrinka wat Medvedev met 6-2, 2-6, 4-6, 7-6(7/2) en 6-2 geklop het.
Warwinka speel nou teen Zverev, wat die Rus Andrey Rublev met 6-4, 6-4 en 6-4 geklop het.
Thiem, die vyfde gekeurde, is ook deur nadat hy die Fransman Gail Monfils met 6-2, 6-4 en 6-4 gestuit het.
* In die afdeling vir vroue lyk die Roemeen Simona Halep na een van die grootste aanspraakmakers ná haar sege van 6-4, 6-4 oor Elise Mertens van België.
Die gedugte Spanjaard Garbine Muguruza het ook tot haar eerste Grand Slam-kwarteindronde in twee jaar deurgedring toe sy Kiki Bertens van Nedarland met 6-3, 6-3 geklop het.