Nadal deur na 43ste kwarteind

Rafael Nadal en Fabio Fognini. (Foto: David Gray/AFP)

Rafael Nadal het Maandag met Fabio Fognini in die Australiese Ope afgereken om sy 43ste Grand Slam-kwarteindstryd te haal.

Die wêreld se naasbeste speler het die Italianer met 6-3, 6-4, 6-2 geklop. Dit is Nadal se 13de keer om die laaste agt in Australië te haal en hy is nou in die derde plek met John Newcombe (14) en Roger Federer (15) wat die eerste twee posisies beklee.

Sy oorwinning oor Fognini beteken hy is steeds op koers om teen Novak Djokovic in die eindstryd te staan te kom. Die Serwiër het Sondagaand met Milos Raonic afgereken om sy plek in die kwarteindstryd te verseker.

Nadal jaag sy 21ste Grand Slam-titel. Hy en Federer het albei 20 Grand Slam-titels in die sakkie. Die Spanjaard sal volgende teen die vyfde gekeurde Stefanos Tsitsipas te staan kom nadat Matteo Berrettini onttrek het weens ‘n besering.

Andrey Rublev het Casper Ruud intussen met 6-2, 7-6 (7/3), 0-0 geklop terwyl Daniil Medvedev vir Mackenzie McDonald met 6-4, 6-2, 6-3 laat les opsê het. Daar sal vir die eerste keer in die geskiedenis drie Russe onder die laaste agt wees.

Jessica Pegula. (Foto: Paul CROCK/AFP)

In die vroue-enkelspel het die Amerikaner Jessica Pegula, 61ste op die wêreldranglys, vir Elina Svitolina met 6-4, 3-6, 6-3 geklop om haar plek in die kwarteindronde te verseker. Jennifer Brady het Donna Vekic met 6-1, 7-5 geklop. Pegula sal haar landgenoot Brady aanvat vir ʼn plek in die halfeind.

Hsieh Su-wei het Marketa Vondrousova met 6-4, 6-2 geklop terwyl Naomi Osaka oor Garbine Muguruza geseëvier het met 4-6, 6-4, 7-5.

Serena Williams het Aryna Sabalenka met 6-4, 2-6, 6-4 geklop en Simona Halep het Iga Swiatek met 3-6, 6-1, 6-4 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.