Nadal in kwarteind, Zverev uitgeskop

Rafael Nadal Foto Daniel Leal-Olivas/AFP.

Die Spanjaard Rafael Nadal is steeds op koers om sy 21ste Grand Slam-titel te wen nadat hy na die kwarteindronde van die Australiese Ope deurgedring het.

Nadal het gesweet om die Italianer Adrian Mannarino te klop, maar dit was nie net die snikhete weer in Melbourne se skuld nie. Mannarino het vasgeskop in die eerste stel en dit het ʼn valbylpot van 28 minute gevat om die manne van die seuns te skei. Daarna het die wal gebreek en Nadal het maklik gewen. Die telling was 7-6 (16/14), 6-2 en 6-2.

Nadal se teenstander in die kwarteind loop breëbors na ʼn skitterende oorwinning oor een van die topgekeurde gunstelinge. Die veertiende Denis Shapovalov het die derde gekeurde Alexander Zverev in drie stelle geklop. Die Duitser is nou al ʼn gewoonte gooier van sy raket en hierdie keer het hy goeie rede gehad. Die telling was 6-3, 7-6 (7/5) en 6-3 in die Kanadees se guns.

Die 22-jarige Shapovalov kom nou teen die 35-jarige Nadal te staan in die kwarteind.

“Dis altyd ʼn eer om teen iemand soos Rafa te speel. Altyd pret, altyd ʼn goeie stryd, dit gaan taai wees,” het die Kanadees gesê. Dit sal sy eerste kwarteindstryd by die Australiese Ope wees.

Hy kon nog net een van sy vier vorige wedstryde teen Nadal wen.

Daar is darem bietjie goeie nuus vir Suid-Afrika ook by die Australiese Ope. Raven Klaasen en sy dubbelsmaat, Ben McLachlan van Japan, is deur na die ronde van 16. Hulle speel môre teen die Australiërs, Matthew Ebden en Max Purcell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.