Nadal in skoon stelle deur na eindstryd waar Wawrinka wag

Raphael Nadal – in sy tiende eindstryd op Roland Garros (Foto (Xinhua/AP Photos)

Die kleibaankoning, Rafael Nadal, het Vrydag met die grootste gemak na die eindwedstryd van die 2017 Franse Ope deurgedring sonder om ʼn enkele stel in die toernooi te verloor.

Hy het die sesde gekeurde Oostenryker, Dominic Thiem, in die halfeind in skoon stelle met 6-3, 6-4, 6-0 geklop.

In die ander halfeindronde het die eerste gekeurde Brit, Andy Murray en die derde gekeurde Stanislas Wawrinka van Switserland sake in ʼn interessante wedstryd uitgespook.

Murray het met sy bestendige verdedigende styl aanvanklik die oorhand oor Wawrinka se kragspel gehad. Wawrinka se visier was nie suiwer ingestel nie en hy het omtrent ewe veel wenners geslaan as wat hy ongedwonge foute gemaak het.

Na die tweede valbylpot in die vierde stel was hy onkeerbaar en was Murray nie meer teen sy aanslag bestand nie.

Die telling was 6-7,6-3, 5-7, 7-6, 6-1.

Warwinka het in 2015 die Franse Ope-titel gewen toe hy vir Novak Djokovic in die eindstryd in vier stelle geklop het. Hy was nog net drie keer in ʼn Grand Slam-eindronde en hy het al drie keer gewen. Sy ander twee titels is die Australiese Ope en die Amerikaanse Ope.

♦  Nadal en Thiem se wedstryd was heel aanskoulik. Thiem het sy man goed gestaan maar Nadal was net te goed en te slim vir hom.

Nadal sal Sondag in sy tiende eindronde van die Franse Ope speel. Hy het nog nooit in die eindwedstryd verloor nie en hy is vasbeslote om sy tiende titel in te palm.

Die mans eindwedstryd tussen Nadal en Wawrinka vind Sondag om 14:30 plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.