Nadal in titaniese Shapovalov-stryd gewikkel

Rafael Nadal in aksie teen Denis Shapovalov. Foto: William West/AFP.

Nadat Rafael Nadal die eerste twee stelle van sy kwarteindstryd op ’n drafstap teen Denis Shapovalov gewen het, het hy kwaai in die derde en vierde stel stoom verloor.

Dit is duidelik dat iets die 35-jarige Spanjaard pla – vanuit die kommentatorshokkie word daar bespiegel dat hy met ’n maagprobleem sukkel – terwyl die jong Kanadees met meer selfvertoue begin speel.

Die jongste beskikbare telling (Nadal s’n eerste) is 6-3, 6-4, 4-6 en 4-2 op die Rod Laver-baan.

Dan moes Stefanos Tsitsipas gister met ’n hele paar terugvegpogings vorendag kom om Taylor Fritz van die VSA in vyf stelle te klop. Die telling was 4-6, 6-4, 4-6, 6-3 en 6-4 in die 23-jarige Griek se guns.

Sodoende het hy vir sy derde kwarteindstryd in Melbourne gekwalifiseer waar Italië se Jannik Sinner vir hom môre op die Rod Laver-baan wag.

Tsitsipas se pa, Apostolos, was egter in die sop omdat hy vir sy seun tydens die wedstryd raad gegee het.

Dit is teen die ATP-beheerliggaam se regulasies om vir ’n speler taktiese raad op die baan te gee en Apostolos is oor sy inmenging gewaarsku.

“Sy pa sal hom een of ander tyd moet uitlos sodat hy self dinge kan doen. ’n Mens kan taktiek voor ’n wedstryd bespreek, maar Stefanos sal self sy probleme op die baan moet uitsorteer,” het Mats Wilander (voormalige Sweedse speler) gesê.

Uitslae:

Danielle Collins klop Elise Mertens met 4-6, 6-4 en 6-4.

Alizé Cornet klop Simona Halep met 6-4, 3-6 en 6-4.

Jannik Sinner klop Alex de Minaur met 7-6, 6-3 en 6-4.

Stefanos Tsitsipas klop Taylor Fritz met 4-6, 6-4, 4-6, 6-3 en 6-4.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Treurwilger

Apostolos, so ou rakker!
Puik raad klaarblyklik.