Nadal kan in Amerikaanse Ope in aksie wees

Rafael Nadal. Foto: (AP Photo/Adam Hunger)

Met die Spaanse owerhede wat moontlik die Madrid Ope weens ’n nuwe vlaag Covid-19-gevalle kan afstel, beteken dit dat sterre soos Rafael Nadal en Simona Halep deel van die Amerikaanse Ope-aksie kan wees.

Die 33-jarige Nadal is die verdedigende kampioen op Flushing Meadows, maar hy was aanvanklik skepties om weens die wêreldwye pandemie na New York te reis.

Volgens die veteraan-tennisjoernalis Christopher Clarey het Nadal en Halep besluit om op die spelersrooster vir die Amerikaanse Ope te bly.

“As Nadal besluit om hom wel te onttrek, sal dit nader aan die tyd wees,” het Clarey op Twitter geskryf.

Intussen het die wêreld voorste speler, Serwië se Novak Djokovic, ook leidrade gelos dat hy in New York kan speel.

Hy was onlangs in die spervuur ná die rampspoedige Adria-toer wat hy in sy geboorteland en in Kroasië van stapel gestuur het.

Novak Djokovic. (AP Photo/Lee Jin-man)

Djokovic het saam met ’n rits ander spelers en beamptes positief vir Covid-19 getoets.

“Ek dink daar is baie van sy medespelers wat ʼn bietjie kop krap. Novak se passie om iets goeds vir die tenniswêreld te doen, het waarskynlik al die wetenskaplike inligting verdoesel. Die toer was vir ʼn goeie doel gereël, maar die eindresultaat was rampspoedig,” het Roger Federer se voormalige afrigter, Paul Annacone, aan die Tennis Channel gesê.

Djokovic het egter van die virus herstel en hy is onlangs gesien waar hy op harde bane oefen, terwyl hy ook die wedstrydballe aangevra het wat in die Amerikaanse Ope gebruik word.

Die Fransman Richard Gasquet oorweeg ook om na die VSA te reis.

“Ek is nie bang om in afsondering in ’n New Yorkse hotel te bly nie. Dit is nie lekker nie, maar waar is dit tans lekker om te bly? Daar is miljoene werklose mense; daar is ongetwyfeld baie erger dinge in die wêreld as om ’n tennisspeler te wees,” het Gasquet gesê.

Die Amerikaanse Ope behoort op 31 Augustus te begin.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae