Nadal klop Medvedev in epiese eindstryd

Rafael Nadal van Spanje hou die trofee vas kort nadat hy die Amerikaanse Ope-tenniskampioenskap gewen het (8 September 2019). (Foto: Charles Krupa/AP)

Rafael Nadal van Spanje moes vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) op Flushing Meadows in New York een van tennis se grootste terugvegpogings afweer voordat hy die jong Rus Daniil Medvedev in die eindstryd van die Amerikaanse Ope kon troef.

Die tweede gekeurde Nadal het sy 19de Grand Slam-toernooi-oorwinning behaal en sy vierde Amerikaanse Ope-titel beklink toe hy die vyfde gekeurde Medvedev met 7-5, 6-3, 5-7, 4-6, 6-4 geklop het.

Nadal was op koers ná ʼn maklike sege toe hy die eerste stelle gewen het en op Medvedev se afslaan in die derde stel deurgebreek het op 3-2. Die skare was aan sy kant en het elke wenpunt toegejuig.

Wat was die kans dat Medvedev met ʼn stel-agterstand van 0-2 kon wen? Byna nul, want volgens die rekordboeke het dit laas in 1949 gebeur toe Pancho Gonzales vir Ted Schroeder geklop het.

Daniil Medvedev wens vir Rafael Nadal geluk nadat hy die Amerikaanse Ope-tenniskampioenskap gewen het (8 September 2019). (Foto: Charles Krupa/AP)

Nadal het ook 218 van sy 219 wedstryde gewen nadat hy met twee stelle voor was.

Maar die 24-jarige Medvedev het nie dié draaiboek gelees nie en wel teruggeveg om vir een van die mees epiese eindstryde nog te sorg. Medvedev het dit reggekry om die 33-jarige Nadal se momentum te stuit deur sy deursettingsvermoë en temperament tot die uiterste te beproef.

Hy wou nie gaan lê nie, maar het elke bal gejaag en teruggeslaan – hy wou die toeskouers, wat hom vroeër in die toernooi uitgejou het, verkeerd bewys.

Hy het byna daarin geslag om die Spaanse matador te ontspoor, voordat Nadal baie diep gedelf het om die marathonstryd eers ná vier uur en 50 minute te beklink – op vier minute na die langste eindstryd nog.

Daniil Medvedev van Rusland antwoord vrae tydens ‘n mediakonferensie na afloop van die wedstryd. (Foto: Adam Hunger/AP)

Nadal, doodmoeg en emosioneel, het op die baan neergesak en gesê dat dit een van sy mees emosionele aande was. “Dit was ʼn ongelooflike eindstryd. Dit was dol,” het hy in sy wennerstoespraak gesê en Medvedev geloof.

Die houvas van 12 agtereenvolgende Grand Slam-oorwinnings wat Nadal, Federer en Novak Djokovic het, kon dus nie verbreek word nie, maar dit was so amper.

* Nadal (19) het nou tot binne een Grand Slam-oorwinning van die rekordgetal van 20 seges van die 38-jarige Roger Federer gekruip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stuiwer ·

Die eerste stelle was definitief nie ‘n makliki sege vir Nadal nie. Die Rus het hom behoorlik op sy tone gehou. Of het die skrywer van hierdie berig ‘n ander wedstryd gekyk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.