Nadal nog onseker oor Spele

Rafael Nadal spog met sy goue medalje. Foto: Luis Acosta/AFP.

Laureus se sportman van die jaar, die tennisspeler Rafael Nadal, is nog nie heeltemal seker of hy by die Olimpiese Spele in Tokio sal afslaan nie.

Die 34-jarige Spanjaard het reeds twee keer in sy roemryke loopbaan met die Olimpiese titel weggestap: In 2008 in die enkelspel en in 2016 as ’n dubbelspelspeler.

“In ’n normale wêreld sou ek nooit daaraan gedink het om die Olimpiese Spele mis te loop nie. Maar in hierdie omstandighede is ek nie meer so seker nie,” het die Franse Ope-kampioen gesê.

Volgens Nadal sal hy in die komende maande eers die kat goed uit die boom kyk voordat hy ’n finale besluit maak.

“Ek sal ongetwyfeld na my skedule moet kyk. In hierdie onsekere tye moet ’n mens aanpasbaar wees.”

Die 34-jarige Spanjaard speel vandag in sy eerste wedstryd van die Italiaanse Ope in Rome teen Jannik Sinner.

Hoewel hy verlede week in die kwarteindstryd van die Madrid-ope teen Duitsland se Alexander Zverev vasgeval het, meen baie kenners dat hy nog oor genoeg woema beskik om sy 14de Franse Ope-titel later vanjaar te wen.

Martina Navratilova het trouens by hom gepleit dat hy nooit moet uittree nie.

Maar Nadal se Spele-vrese is egter nie ongegrond nie.

Verskeie ander sterre, soos Naomi Osaka en Serena Williams, het al hul kommer oor Covid-19 se invloed op die Tokio-skouspel uitgespreek, terwyl Japanse media aangedui het dat die land al sy atlete vooraf teen die virus sal inent.

Volgens berigte sal 2 500 mense – wat atlete en afrigters insluit – deel van die inentingsproses wees.

Die Japanse regering het dit vroeër ontken dat hy ’n plan oorweeg om sy atlete vóór die res van die bevolking in te ent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.