Nadal onttrek aan nóg ʼn toernooi

Rafael Nadal. (Foto: Chris Unger/Getty Images/AFP)

Tennisliefhebbers sal ʼn rukkie langer moet wag om Rafael Nadal weer in aksie te sien.

Die voormalige wêreldnommereenspeler het hom aan die Indian Wells-toernooi in Kalifornië onttrek omdat hy nog nie gereed is vir die eise wat met toernooitennis gepaard gaan nie.

“Dit is met groot hartseer dat ek my aan die ongelooflike toernooi moet onttrek. Almal weet hoe baie ek van die plek hou en hoe mal ek daaroor is om hier te speel,” het die Spanjaard op sosiale media gedeel.

Nadal, wat vanjaar sy 38ste verjaardag vier, het saam met Novak Djokovic na die VSA gereis sodat hy genoeg tyd het om vir die toernooi voor te berei.

Daarbenewens het hy weer tekens van sy ou aanvallende spel in ʼn vertoonwedstryd teen Carlos Alcaraz in Las Vegas getoon.

“Ek het hard gewerk en geoefen, maar ek is nie gereed om teen die hoogste vlak by só ʼn belangrike toernooi te speel nie.”

Volgens Nadal was dit hoegenaamd nie ʼn maklike besluit om te neem nie.

“Dit was baie moeilik, maar ek kan nie vir myself en die duisende ondersteuners jok nie. Ek gaan julle mis, maar ek is seker dat die toernooi ʼn reusesukses sal wees.”

ʼn Heupbesering- en operasie het die Spanjaard in 2023 langs die baan gehou. Sy aanvanklike terugkeer vroeër vanjaar is in Australië kortgeknip nadat hy ʼn klein skeur in sy linkerbobeenspier opgedoen het.

Hy moes nou teen Milos Raonic in sy openingswedstryd in Kalifornië gespeel het. Die Kanadese speler sal nou teen Indië se Sumit Nagal te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.