Nadal op Federer se spoor

Rafael Nadal. Foto: (AP Photo/Adam Hunger)

Die Spaanse matador Rafael Nadal is nou binne trefafstand van die Switserse legende Roger Federer se rekordgetal van 20 Grand Slam-toernooioorwinnings.

Dit nadat hy vroeg Saterdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) tot sy vyfde eindstryd van die Amerikaanse Ope-tennistoernooi op Flushing Meadows in New York deurgedring het.

Nadal (2de gekeur) het die Italianer Matteo Berrettini (24ste) met 7-6 (8-6), 6-4, 6-1 geklop en kom teen die Rus Danill Medvedev (5de gekeur) in Sondagaand se eindstryd te staan wat die Bulgaar Grigor Dimitrov (ongekeur) met 7-6 (7-5), 6-4, 6-3 in die eerste halfeindstryd uitgeskakel het.

As Nadal kan seëvier, sal hy met 19 Grand Slams spog, slegs een minder as Federer se 20.

Serena Williams. Foto: (AP Photo/Charles Krupa)

Berretini het glad nie swak in sy eerste halfeindstryd vertoon nie, want hy het nege kishoue teenoor Nadal se vier gemoker en slegs vier dubbelfoute teenoor Nadal se vier begaan.

Hy het ook 37 wenhoue teenoor Nadal se 30 geslaan, maar die groot verskil was dat hy 44 ongedwonge foute begaan het teenoor Nadal se 18.

Soos soveel keer vantevore was dit Nadal se meedoënlose houeverwisseling en balplasing wat die jonger Italianer geknak het.

Bianca Andreescu. Foto: (AP Photo/Adam Hunger)

* Medvedev het die eerste Rus sedert 2000 geword wat tot die eindstryd op Flushing Meadows kon deurdring. Hy sluit hom by sy landgenoot Marat Safin aan wat laas in 2005 in die eindstryd van ʼn Grand Slam-toernooi (Australiese Ope) kon deurdring.

Dit was Medvedev se 50ste oorwinning vanjaar en sy vierde agtereenvolgende eindstryd.

Moet dus nie verbaas wees as hy Nadal klippe laat kou nie!

* In Saterdagaand se vroue-eindstryd pak die Amerikaner Serena Williams die jong Kanadees Bianca Andreescu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.