Nadal se tiende Franse Ope-titel ʼn Grand Slam-rekord

Raphael Nadal – wen sy tiende eindstryd op Roland Garros (Foto: Xinhua/AP Photos)

Die Spaanse kleibaankoning, Rafael Nadal het Sondag sy tiende Franse Ope-titel ingepalm deur Stan Wawrinka in skoon stelle met 6-2, 6-3, 6-1 te klop.

Geen ander speler het al in die moderne era (sedert 1968) een van die Grand Slam-toernooie tien keer gewen nie. Wat dit des te meer merkwaardig maak, is dat Nadal nog nie ʼn eindstryd op Roland Garros verloor het nie.

Die 31-jarige Nadal het Wawrinka, wat in 2015 dié toernooi gewen het, totaal oorweldig met kleibaantennis soos net hy dit kan speel.

Eintlik was Nadal van die begin van die toernooi af onstuitbaar. Hy het elke stel wat hy gespeel het, gewen en net 35 potte in die toernooi afgestaan. Hy het nou 15 Grand Slam-titels agter sy naam wat hom in die tweede plek, verby Pete Sampras, laat beweeg, en hy is nou net drie titels agter Roger Federer wat 18 Grand Slams gewen het.

Die 32-jarige Wawrinka is die oudste speler sedert 1973  wat die eindstryd by Roland Garros haal. Hy moes in die halfeind vyf taai stelle teen die wêreld se nommer een, Andy Murray, speel om deur te dring.

Dit het moontlik sy tol geëis. Hy het nie sy kenmerkende krag in sy bene en venyn in sy houe gehad nie.

Nadal het ʼn bykans foutlose wedstryd gespeel wat sy teenstander toenemend afgetakel en gefrustreer het. Hy het al 12 sy afslaanpotte gewen, die enigste breekpunt teen hom afgeweer en self net 12 ongedwonge foute gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adoons ·

Lekker om te sien Nadal is terug in al sy glorie! Nou vir Wimbledon en Federer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.