Nadal sluit ‘belangrike’ Rome-hoofstuk

Rafael Nadal groet (dalk vir oulaas) sy ondersteuners in Rome. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Rafael Nadal het sy wedstryd teen Hubert Hurkacz met 6-1 en 6-3 verloor en met die gordyn wat besig is om oor die Spanjaard se roemryke loopbaan te sak, was dit ook waarskynlik sy laaste kragmeting in Rome.

Volgens die 37-jarige speler sal hy altyd ʼn sagte plek in sy hart vir die Italiaanse hoofstad hê.

“Ek het van my belangrikste, mooiste en mees emosionele wedstryde hier gespeel. Ek mag dalk met my selfvertroue in aanloop tot die Italiaanse Ope gesukkel het, maar telkemale wanneer ek in Rome afslaan dan het ek beter begin speel,” het Nadal gesê.

Hy erken dat Hurkacz vandag hopeloos te veel skietgoed vir hom gehad het.

“Ek dink die telling ná die eerste stel was weliswaar nie ʼn ware weerspieëling van die wedstryd nie, maar hy was baie beter as ek in die daaropvolgende stel. Ek kon hom net nie onder druk plaas nie.”

Sy Poolse teenstander het veral met sy afslaanwerk uitgeblink en Nadal het gesukkel om die bal ordentlik terug te slaan.

“Ek sal dit doodeenvoudig net moet aanvaar. Dit was ʼn moeilike dag; juis omdat ek ook baie meer op my stukke gevoel het as wat die telbord wys.”

Hy sal nou ʼn besluit oor sy Franse Ope-deelname moet maak.

“Ek kan óf sê dat ek nie goed genoeg speel nie; óf ek sal baie hard op die oefenbaan moet werk om gereed te wees. Dit is nie maklik nie; maar ek wil op Roland-Garros afslaan en my beste gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.