Nadal terug tussen die bestes

Rafael Nadal. Foto: AP Photo/Dita Alangkara

Rafael Nadal. Foto: AP Photo/Dita Alangkara

Die kwarteindstryd van die Australiese Ope Woensdag, tussen Rafael Nadal en Milos Raonic, het ʼn titaniese stryd opgelewer wat ʼn mengsel van briljante en soms ook baie middelmatige tennis vol ongedwonge foute van al twee spelers opgelewer het.

Nadal (9) het die wedstryd uiteindelik in skoon stelle met 6-4, 7-6, 6-4 gewen deur gaandeweg die beheer oor die wedstryd te kry. Hy het in die tweede stel in die valbylpot van agter gekom, ʼn hele paar stelpunte afgeweer en uiteindelik die stel beklink.

Raonic (3) is al die hele toernooi ongesteld en moes Woensdag ook mediese aandag vir ʼn ander besering kry.

Nadal, ʼn ervare, uitgeslape kalant, het ʼn teenvoeter vir Raonic se afslane gehad en sy ondervinding het hom telkens uit die moeilikheid gehelp.

Raonic was nie op sy beste nie, maar Nadal is beslis weer terug in die groter tennisprentjie en hy sal Vrydag heelwat vrae aan Grigor Dimitrov in Vrydag se halfeindronde vra.

♦  In die eerste van Woensdag se twee kwarteindstryde vir mans, was die Belg, David Goffin (11), nie opgewasse teen die Bulgaar, Grigor Dimitrov (15), nie. Dimitrov het hom in skoon stelle met 6-3, 6-2, 6-4 geklop.

Goffin het twee wedstrydpunte afgeweer om die telling 4-5 in die derde stel te maak, maar Dimitrov het sy afslaan daarna behou, die wedstryd beklink en na die laaste vier deurgedring.

Dimitrov se enigste vorige Slam-halfeindronde was in 2014 by Wimbledon.

♦  Wat die vroue betref, het Serena Williams (2) vir Johanna Konta (9) met haar kragspel oortuigend geklop in skoon stelle. Konta, wat 1.80m in haar sokkies staan, het nie teruggedeins nie, maar kon nie die 35-jarige tennisfenomeen stuit nie.

Sy het wel daarin geslaag om Williams se afslaan te breek, maar kon dit nie opvolg nie. Die telling was 6-2, 6-3.

Williams het ʼn einde aan Konta se reeks van nege oorwinnings gemaak en is een ronde nader aan haar doelwit: ʼn rekord 23ste Grand Slam-titel.

ʼn Williams teen-Williams-eindstryd bly ʼn sterk moontlikheid. Venus het Dinsdag reeds na die halfeind deurgedring.

♦  Mirjana Lucic-Baroni (ongekeur) het ʼn taai wedstryd teen Karolina Pliskova (5) gehad, waarin nie een van die spelers werklik kon domineer nie.

Lucic-Baroni het met haar afslane probleme met die son gehad. Albei spelers het mediese aandag benodig, wat ook die momentum van die wedstryd verskuif het.

Die 34-jarige Lucic-Baroni, wat nog net een keer in ʼn halfeindronde van ʼn Slam, in 1999 by Wimbledon, was, het die wedstryd 6-4, 3-6, 6-4 teen die vyfde gekeurde Pliskova gewen en sal in die halfeindronde teen Serena Williams speel.

♦  Stan Wawrinka en Roger Federer speel Donderdag in die halfeindronde teen mekaar. In 21 wedstryde het Wawrinka nog net drie keer teen sy goeie vriend en landgenoot gewen. Maar dit is net geskiedenis … hierdie is die een wat nou vir albei tel.

♦   Die halfeindronde vir vroue is om verskeie redes uitsonderlik. Drie van die spelers is 34 jaar oud en ouer. Die gemiddelde ouderdom van die vier semi-finaliste is 32,5 jaar. Twee van die vier spelers was ongekeur vir die toernooi en dan speel daar ook twee susters in die halfeind.

Drie van die spelers is Amerikaners en as Serena en Lucic-Baroni op die baan gaan, is dit die eerste keer sedert 1998 wat hulle teen mekaar speel.

Halfeindstryde –
Vroue:
Venus Williams teen CoCo Vanderweghe

Serena Williams teen Mirjana Lucic-Baroni

Mans:
Roger Federer teen Stan Wawrinka.

Vrydag:

Mans:

Grigor Dimitrov teen Rafael Nadal

♦   Suid-Afrika se Raven Klaasen en sy dubbelspelmaat, Michaella Krajicek,  het deurgedring na die kwarteind van die gemengde dubbelspel, waarin hulle teen Juan Cabal en Abigail Spears verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.