Nadal trap g’n klei teen Federer

Rafael Nadal van Spanje tydens die Franse Ope (7 Junie 2019) (Foto: AP Photo/Michel Euler)

In een van Sasha Baron Cohen se vreemde films, is daar ’n karakter met die naam Nuclear Nadal. Rafael Nadal is allesbehalwe ’n kernfisikus, maar die Spanjaard was vanmiddag in ’n verwoestende bui teen Roger Federer in die halfeindstryd van die Franse Ope op Roland Garros.

Die 33-jarige hotklou het die wedstryd 6-3, 6-4 en 6-2 gewen om vir sy 12de Franse Ope-finaal te kwalifiseer. Dit was ook die 92ste wedstryd wat hy op die kleibaan gewen het, ’n prestasie wat hom tereg die bynaam van Koning van die Klei gee.

Hoewel Federer nie die moontlikheid uitgesluit het dat hy in 2020 weer na Parys sal terugkeer nie, was vanmiddag se kragmeting die grootste nederlaag van sy loopbaan sedert 2008.

Tog was Nadal vol lof vir die 37-jarige Federer. “Dit was ongelooflik om teen Roger te speel. Om sy spelpeil op sy ouderdom te handhaaf, is net verstommend.”

Nadal kom Sondag in die eindstryd teen die wenner van die Dominic Thiem/Novak Djokovic-stryd te staan.

Reën het egter spel in die wiele gery met Thiem wat 3-1 in die derde stel voorloop. Hy het die eerste stel 6-2 gewen, met Djokovic wat in die tweede stel teruggeveg het om 6-3 te wen.

  • In môre se vroue-eindstryd kom Australië se Ashleigh Barty teen die Tsjeggiese Republiek se Markéta Vondroušová te staan. Hulle het onderskeidelik met Amerika se Amanda Anisimova en Brittanje se Johanna Konta afgereken.

Organiseerders is egter in die spervuur omdat hulle vroue-halfeindsryde (wat as gevolg van die reënweer uitgestel is) weg van die hoofbaan geskuif het om die manswedstryde te akkommodeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.