Nadal: Twee wedstryde weg van nóg ’n finaal

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Rafael Nadal speel ’n rukkie later vandag in die Wimbledon-kwarteindstryd teen Taylor Fritz van die VSA.

En nadat hy gister hard op een van die grasbane geoefen het, glo sy afrigters dat die Spanjaard oor genoeg skietgoed beskik om Fritz se aanslag af te weer.

Volgens Francisco Roig was daar in die aanloop tot die toernooi nog onsekerheid oor hoe Nadal se voet op die mediese behandeling sou reageer.

“Daarna was dit ons doelwit om elke dag beter tennis te speel; iets wat hy reggekry het. As jy in ag neem hoe alles eintlik op die laaste nippertjie in plek geval het, is ons baie tevrede met die vordering,” het Roig gesê.

Die tennisafrigter het bygevoeg dat Nadal se doelwit intussen ook verander het.

“Toe ons in Engeland aangekom het, het ons nie veel aan wen gedink nie. Nou tel Rafa onder een van die gunstelinge om die silwerware omhoog te hou.”

Fritz sal egter hoegenaamd nie kanonvoer wees nie – hy is die 11de gekeurde speler by Wimbledon, terwyl hy Nadal ook in hul laaste ontmoeting in Kalifornië geklop het. ’n Mens moet egter byvoeg dat die Spanjaard toe met ’n ribbesering gespeel het.

“Taylor speel deesdae baie goeie tennis. Hy houespel is baie suiwer, terwyl hy sy goeie potensiaal en talent ook in seges op die baan omgeskakel het. Tog is ek baie tevrede met Rafa se spel in sy laaste twee kragmetings.”

Nadal het eers met Lorenzo Sonego (6-1, 6-2 en 6-4) afgereken, waarna hy met Botic van de Zandschulp (6-4, 6-2 en 7-6) klaargespeel het.

Dan speel Novak Djokovic in Vrydag se halfeindstryd teen Groot-Brittanje se Cameron Norrie.

Die topgekeurde Djokovic moes diep delf om sy wedstryd teen die opwindende Jannik Sinner te wen. Nadat hy die eerste twee stelle verloor het, het hy uitstekend teruggeveg om die kragmeting met 5-7, 2-6, 6-3, 6-2 en 6-2 te wen.

Op sy beurt het Norrie – wat in Johannesburg gebore is – vir David Goffin met 3-6, 7-5, 2-6, 6-3 en 7-5 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.