Nadal veg vir vyf stelle om die eindstryd te haal

Raphael Nadal - weer in die eindtryd in Sydney (Foto (Xinhua/AP Photos)

Raphael Nadal – weer in die eindtryd in Sydney (Foto (Xinhua/AP Photos)

Rafael Nadal is na amper vyf uur en vyf stelle se uitstekende tennis weer in die eindstryd van  ʼn Grand Slam.

Hy het Grigor Dimitrov 6-3, 5-7 7-6, 6-7 en 6-4 in  ʼn verbete stryd wat die skare vasgenael gehou het, geklop.

Nadal sal Sondag sy ou teenstander, Roger Federer in die eindstryd ontmoet – net soos in 2009 by die Australiese Ope. Nadal het toe die wedstryd in vyf stelle gewen.

Dimitrov het baie goed gespeel en sy kanse gehad; hy het twee breekpunte in die agste pot van die vyfde stel gehad maar Nadal het altyd van êrens af nog  ʼn hou opgetower om te verhoed dat die Bulgaar deurgaan na sy eerste eindstryd in een van die Slams.

Dimitrov het drie wedstrydpunte afgeweer. maar uiteindelik was dit die Spanjaard wat met sy volgehoue veggees met die louere weggestap het.

Tennisliefhebbers kon nie vir  ʼn beter eindstryd vir die Australiese Ope gevra het nie. Dit is asof  ʼn goue era van tennis herleef.

♦  Nadal loop  23-11 voor in wedstryde teen Federer. Hy het nog net een keer die titel in Melbourne gewen en dit was in 2009 teen die Switserse meester.

Federer het laas in 2007 vir Nadal in  ʼn Grand Slam-eindstryd, by Wimbledon, geklop.  Nadal het in 2014 laas by die Franse Ope in  ʼn eindstryd gespeel.

Federer het die Australiese Ope-titel al vier keer gewen, die laaste keer in 2010 in skoon stelle teen Andy Murray.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.