Navratilova wil hê Rafa moet nooit uittree

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Rafael Nadal is nie meer die tweede voorste tennisspeler ter wêreld nie. Volgens die jongste ATP-ranglys het Rusland se Daniil Medvedev die veglustige Spanjaard verbygesteek.

Die 34-jarige Nadal is in die kwarteindstryd van die Madrid-ope deur Alexander Zverev, die uiteindelike kampioen, uitgeskakel.

En dit alles met die Franse Ope in Parys om die draai waar die Spanjaard sal poog om die Grand Slam vir die 14de keer te wen.

Maar Nadal is die afgelope naweek as die sportman van die jaar by die Laureus-toekennings aangewys en Martina Navratilova het hom vir sy toewyding geloof.

Sy het terselfdertyd gesê die silwerware in Parys is beslis nie buite sy bereik nie.

“Mense gaan eendag boeke oor jou loopbaan skryf om vir ander te probeer aanspoor om soos jy te wees. Ek het oneindige respek vir jou en ek is mal daaroor om jou te sien speel. Trouens, ek wens dat jy nooit sal uittree nie want dan kan jy dalk 30 titels op Roland Garros wen,” het die tennislegende van Nadal gesê.

Die ATP-wêreldranglys:

  1. Novak Djokovic
  2. Daniil Medvedev
  3. Rafael Nadal
  4. Dominic Thiem
  5. Stefanos Tsitsipas
  6. Alexander Zverev
  7. Andrey Rublev
  8. Roger Federer
  9. Matteo Berrettini
  10. Diego Schwartzman

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.