NBA se BLM-logo dalk van die baan af

Foto: Twitter.

Basketbalsterre soos LeBron James gebruik NBA-wedstryde in die VSA om die Black Lives Matter-boodskap die wêreld in te stuur. Spelers buig die knie, spesiale hemde word gedra en die BLM-logo is op talle bane aangebring.

Maar, sê NBA-baas Adam Silver, vanaf volgende seisoen kan hierdie boodskappe grotendeels van die baan af gelewer moet word.

“Ons is volkome daartoe verbind om sosiale geregtigheid en rassegelykheid te bevorder; dit is trouens waardes wat deel van die NBA se DNS is. Hoe dit egter gemanifesteer word, is ’n kwessie wat ons met die spelers sal moet bespreek,” het Silver gesê.

Volgens Silver was die afgelope paar maande ’n buitengewone tydperk in die sport se geskiedenis, maar dat dinge weer na normaal kan terugkeer.

Kykergetalle het ook drasties afgeneem. Die afgelope wedstryd tussen die Los Angeles Lakers en die Miami Heat is deur 5,94 miljoen mense gevolg. Volgens Sports Media Watch het die Finals-wedstryd die swakste ondersteuning in die spel se TV-geskiedenis geniet.

Hoewel daar verskeie redes kan wees vir die swak ondersteuning – soos die nuwe skedule weens die Covid-19-pandemie – meen Ted Cruz (’n lid van die Amerikaanse senaat) dat die spelers se protesoptredes ook ’n rol gehad het.

“Dit is nie eintlik ’n verrassing nie. Dit is die eerste keer in baie jare wat ek nie ’n enkele Finals-wedstryd gekyk het nie,” het hy op sosiale media geskryf.

Fox News berig dat die NBA kritiek verduur het omdat hulle sommige belangrike kwessies ignoreer, maar onmiddellik toegelaat het dat spelers BLM-slagspreuke op hul wedstryddrag aanbring en dat die beweging se logo op sommige bane geverf is.

Die Orlando Magic se Jonathan Isaac bly staande. Foto: Twitter.

Vroeër het die Orlando Magic se Jonathan Isaac vir opslae gesorg toe hy staande gebly het terwyl sy spanmaats die knie gebuig het.

“Hoewel ek glo dat swart mense se lewens ongetwyfeld saak maak, glo ek nie dat om te kniel en die BLM-hemp te dra noodwendig wys dat ek dit ondersteun nie,” het Isaac gesê.

Die 22-jarige speler het bygevoeg dat sy lewe deur Jesus Christus beheer word en dat almal na God se beeld geskape is; tog kan niemand werklik sê dat hulle Sy genade verdien nie.

“Ek wou mense bewus maak van die feit dat ons almal foute maak, maar dat die Evangelie van Christus vir ons genade gee.

“Wanneer ʼn mens om jou kyk, glo ek nie dat rassisme die enigste probleem in die wêreld is nie. Ek hoop ons besef dat die Evangelie nie net die antwoord vir rassisme is nie, maar ook vir al die ander probleme in die wêreld.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ja nee verwyder, want sommiges gebruik die vir politiek en om hulle rasse-haat te beorder. Dit gaan nie oor omgee en in GOD glo nie. – Die is can die duiwel. (Op die aarde maak almal se lewe saak, en skelms hoort in die tronk ongeag vel kleur).

Vrijburger

He-he. “Get woke, go broke.” Geld begin praat.