Nederlaag kelder nie Raducanu se NY-droom

Emma Raducanu meen dat sy weer stelselmatig op alle suiers op die tennisbaan begin vuur. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP

Emma Raducanu het dalk vandag haar rieme in die Western & Southern-ope teen Jessica Pegula met 7-5 en 6-4 styfgeloop, maar sy is steeds honger vir sukses.

Veral in New York waar sy verlede jaar as 18-jarige groentjie die Amerikaanse Ope-titel verower het.

“Ek sien natuurlik daarna uit om weer New York te sien, maar die toernooi is beslis die groot trekpleister. Ek het soveel goeie herinneringe – van my vertoning in die junior toernooie tot verlede jaar se sukses op die groot verhoog,” het die jong Brit gesê.

Ondanks haar nederlaag teen Pegula het Raducanu met Serena Williams en Victoria Azarenka in Cincinnati afgereken. En sy voel dat sy stadig maar seker weer op haar beste begin speel.

“Ek is besig om weer na my wedstryde van verlede jaar se Amerikaanse Ope te kyk en ek sien dat ek beslis munt uit my teenstanders se ongedwonge foute geslaan het. Tog glo ek dat ek nie net as speler verbeter het nie, maar ek begin ook weer met die vryheid van ouds speel.”

In die mansafdeling het Felix Auger-Aliassime ’n paar wedstrydpunte in die tweede stel afgeweer om Jannik Sinner met 2-6, 7-6 en 6-1 te klop.

“Jannik was vir ’n ruk net hopeloos te goed en te vinnig vir my gewees. Maar teen die einde van die wedstryd was ek steeds staande en ek is trots op die wyse waarop ek terugbaklei het,” het die Kanadese speler gesê.

Dan het die 19-jarige Carlos Alcaraz die jongste manspeler in 16 jaar geword om vir die kwarteindstryd van die Cincinnati-toernooi te kwalifiseer toe hy vir Marin Cilic met 7-6 en 6-1 ore aangesit het.

  • Uitslae:

John Isner klop Sebastian Korda met 7-6, 1-6 en 7-6

Borna Coric klop Roberto Bautista Agut met 6-2 en 6-3

Stefanos Tsitsipas klop Diego Schwartzman met 6-3 en 6-3

Daniil Medvedev klop Denis Shapovalov met 7-5 en 7-5

Taylor Fritz klop Andrey Rublev met 6-7, 6-2 en 7-5

Cameron Norrie klop Ben Shelton met 6-0 en 6-2

Carlos Alcaraz klop Marin Cilic met 7-6 en 6-1

Felix Auger-Aliassime klop Jannik Sinner met 2-6, 7-6 en 6-1

Madison Keys klop Iga Swiatek met 6-3 en 6-4

Zhang Shuai klop Anett Kontaveit met 2-6, 6-4 en 6-4

Jessica Pegula klop Emma Raducanu met 7-5 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.