Nederland looi Zambië; verbeter Olimpiese rekord

Vivianne Miedema teken een van haar vier doele aan. Foto: Kohei Chibagara/AFP.

Nederland se vrouesokkerspan het gister amok in hul wedstryd teen Zambië gemaak om die kragmeting met 10-3 in Tokio te wen.

Sodoende het hulle vir ’n tikke Olimpiese geskiedenis gesorg deur die vrouespan te word wat die meeste doele in een wedstryd aangeteken het.

Vivianne Miedema het vir vier doele gesorg, terwyl Lieke Martens twee keer tot die Nederlanders se vrolikheid bygedra het.

Die bal het altesaam 13 keer sy pad na die agterkant van die doel gevind; óók ’n Olimpiese rekord.

Zambië, wat hul Spele-buiging gemaak het, het darem ook rede gehad om fees te vier. Hul kaptein, Barbra Banda, het nie net haar land se eerste Olimpiese doel aangeteken nie, maar sy was ook vir al drie van haar span se doele verantwoordelik.

Nederland speel Saterdag teen ’n sterk Brasiliaanse span. Die Suid-Amerikaners het China met 5-0 oorrompel en hul groep is gelaai met sterre: Die 43-jarige Formiga speel byvoorbeeld in haar sewende Olimpiese toernooi.

Dan het die VSA – een van die gunstelingspanne om met die louere weg te stap – met 3-0 teen Swede verloor. Dit was die Amerikaners se eerste nederlaag in 44 wedstryde.

“Swede is een van die beste spanne ter wêreld en ons kan nie te lank oor die nederlaag tob nie. Ons speel immers weer oor drie dae,” het Megan Rapino ná die wedstryd gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.