Netbal-aksie begin môre teen Engelse

Die Proteas het die Afrika-beker gewen. Foto: Argief.

Dorette Badenhorst het gister haar verjaardag gevier en ’n Protea-reeksoorwinning teen die Engelse Rose in Kaapstad sal beslis die kersie op die koek wees.

Die nuwe Protea-afrigter het onlangs die leisels by die suksesvolle Norma Plummer (wat óók haar verjaardag vandeesmaand gevier het) oorgeneem en het terstond die Afrika-beker met haar eerste probeerslag gewen.

Die Rose behoort egter sterk teenstand te bied, maar die Suid-Afrikaners het al vanjaar sukses teen hulle gesmaak toe hulle die Engelse met 48-45 in Liverpool geklop het.

Dáárdie oorwinning is een van die Proteas se vele hoogtepunte in 2019. Bongi Msomi se span het onder meer vierde in die Wêreldbeker-netbaltoernooi geëindig. Hulle het Jamaika vir die eerste keer in sewe jaar getroef en hulle is as Suid-Afrika se sportspan van die jaar aangewys.

Op die individuele front is die skitterende Karla Pretorius as die speler van die toernooi ná afloop van die Wêreldbeker aangewys, terwyl sy ook as die gesaghebbende Netball Scoop se waardevolste speler van die jaar gekies is.

  • Engeland is tans derde op die wêreldranglys gekeur, terwyl die Suid-Afrikaners vyfde op dié lys is.
  • Bepalings vir die Rose-reeks:

29 November om 19:00

30 November om 15:00

1 Desember om 13:00

  • Die wedstryde sal ook regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.