Netbalspan begin Wêreldbeker-aanslag

Die kapteins van die verskillende lande by die Wêreldbeker-netbaltoernooi. Suid-Afrika word deur Bongiwe Msomi aangevoer. Foto: Facebook.

Ná die Protea-krieketspan se nagmerrie-veldtog by vanjaar se Wêreldbeker, sal die Protea-netbalspan alles in die stryd werp om verlore sportaansien te herwin.

En hulle staan ’n baie goeie kans om dit te doen.

Die toernooi begin Vrydag in Liverpool wanneer die Suid-Afrikaners teen Trinidad en Tobago in hul openingswedstryd te staan kom. Daarna sal hulle teen Fidji en Jamaika kragte meet.

Die span se voorbereidingswerk het baie goed verloop toe hulle twee keer met Wallis (84 – 32 en 79 – 44) in Cardiff afgereken het.

Vroeër het hulle in ’n vierhoekige toernooi vir die eerste keer in 19 jaar met Engeland (48 – 45) en so amper-amper met Nieu-Seeland (60 – 62) klaargespeel.

Afrigter Nora Plummer sê juis haar span het ’n baie realistiese kans om met ’n medalje weg te stap.

“Dit was fantasties om die twee wedstryde teen Wallis te speel – veral as jy in ag neem dat ons laas in Januariemaand saam as ’n span gespeel het,” het Plummer gesê.

“Ek kon elke speler in ons groep speelkans in die twee wedstryde gegee het – iets wat beslis met ons voorbereidingswerk gehelp het.”

Die Proteas is beslis nie meer kanonvoer nie en verskeie Suid-Afrikaanse spelers is deesdae in oorsese ligas in aksie.

Voor in die koor is die superster, Karla Pretorius. Die 29-jarige speel vir die Sunshine Coast Lightning en word deur kenners nie net as die beste verdediger ter wêreld beskryf nie, maar ook die invloedrykste.

Nieu-Seeland se breier, Noeline Taurua, noem haar byvoorbeeld wêreldnetbal se “Silent Assassin”.

“Ons voorbereiding vir die toernooi vorder baie goed en ons sien werklik na die wedstryde uit,” het Pretorius Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

  • Die Suid-Afrikaners se bepalings:

12 Julie: SA teen Trinidad en Tobago (18:05)

13 Julie: SA teen Fidji (18:05)

14: Julie: SA teen Jamaika (17:45)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.