Netbalspan wil Engelse óók klop

Suid-Afrika se Karla Pretorius (middel) is as die speler van die toernooi by die Wêreldbeker aangewys. Foto: Press Association via AP Images.

Daar wag nóg ’n Suid-Afrikaanse sportspan op die Engelse later vandeesmaand: Die Protea-netbalspan is oorgehaal om die Rose op hul neuse te laat kyk.

Die Proteas speel drie toetse teen Engeland in die Kaap en hoewel die Rose 44 van die 58 toetse tussen dié twee internasionale spanne gewen het, het die Suid-Afrikaners in die afgelope paar wedstryde met rasse skrede verbeter.

Die span het onder andere die Rose met 48 – 45 gedurende die vierhoekige reeks in Liverpool verslaan, terwyl hulle nie sleg in die bronsmedaljewedstryd by vanjaar se Wêreldbeker-netbaltoernooi teen die einste teenstanders vertoon het nie.

“Ons kan nie wag om weer teen Engeland te speel nie. Albei spanne het deur ’n oorgangsfase gegaan en bou vir die toekoms. Ons wil hulle nie toelaat om ons op tuisbodem te klop nie en ons sal die keer die ondersteuning van die toeskouers geniet,” het Netbal Suid-Afrika se Cecilia Molokwane gesê.

Sedert die Wêreldbeker het Dorette Badenhorst by Norma Plummer as die Protea-afrigter oorgeneem en terstond die Afrikabeker gewen.

Engeland het ook ’n nuwe afrigter in Jess Thirlby.

“Ek sien baie uit na dié reeks en dit sal beslis vir ’n paar opwindende wedstryde sorg,” het Thirlby gesê.

  • Die wedstryde is van 29 November tot 1 Desember in Bellville.
  • Bepalings:

29 November om 19:00

30 November om 15:00

1 Desember om 13:00

  • Kaartjies is by Computicket beskikbaar teen R50 per skoolleerling en R100 per volwassene. Naweekpakkette is ook beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

bokke ·

Die Aussie afrigter het ‘n geweldige verskil gemaak. Nou’s sy weg, hoop nie die storie val nou weer uitmekaar nie.

Hennie ·

Dames julle kan dit doen. Laat ons nog verder sout in hulle wonde vryf!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.