Daar wag nóg ’n Suid-Afrikaanse sportspan op die Engelse later vandeesmaand: Die Protea-netbalspan is oorgehaal om die Rose op hul neuse te laat kyk.
Die Proteas speel drie toetse teen Engeland in die Kaap en hoewel die Rose 44 van die 58 toetse tussen dié twee internasionale spanne gewen het, het die Suid-Afrikaners in die afgelope paar wedstryde met rasse skrede verbeter.
Die span het onder andere die Rose met 48 – 45 gedurende die vierhoekige reeks in Liverpool verslaan, terwyl hulle nie sleg in die bronsmedaljewedstryd by vanjaar se Wêreldbeker-netbaltoernooi teen die einste teenstanders vertoon het nie.
“Ons kan nie wag om weer teen Engeland te speel nie. Albei spanne het deur ’n oorgangsfase gegaan en bou vir die toekoms. Ons wil hulle nie toelaat om ons op tuisbodem te klop nie en ons sal die keer die ondersteuning van die toeskouers geniet,” het Netbal Suid-Afrika se Cecilia Molokwane gesê.
Sedert die Wêreldbeker het Dorette Badenhorst by Norma Plummer as die Protea-afrigter oorgeneem en terstond die Afrikabeker gewen.
Engeland het ook ’n nuwe afrigter in Jess Thirlby.
“Ek sien baie uit na dié reeks en dit sal beslis vir ’n paar opwindende wedstryde sorg,” het Thirlby gesê.
- Die wedstryde is van 29 November tot 1 Desember in Bellville.
- Bepalings:
29 November om 19:00
30 November om 15:00
1 Desember om 13:00
- Kaartjies is by Computicket beskikbaar teen R50 per skoolleerling en R100 per volwassene. Naweekpakkette is ook beskikbaar.
Julle kan die beker ook huistoe bring Karla
Die Aussie afrigter het ‘n geweldige verskil gemaak. Nou’s sy weg, hoop nie die storie val nou weer uitmekaar nie.
Dames julle kan dit doen. Laat ons nog verder sout in hulle wonde vryf!!!