Neurochirurg skilder somber Schumacher-prentjie

Michael Schumacher. (AP Photo/Ben Curtis, File)

Erich Riederer, ’n wêreldbekende neurochirurg, het sy mening oor Michael Schumacher se gesondheid gegee.

Hoewel hy nie ’n persoonlike verbintenis met die Schumacher-gesin het nie, het hy in sy professionele hoedanigheid gesê dat die F1-legende nooit weer dieselfde sal wees nie.

Die 51-jarige Ferrari-ster het in 2013 ernstige hoofbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe. Daar is bitter min inligting oor sy toestand bekend, maar Jean Todt (voormalige Ferrari-spanbaas) het hom ’n paar weke gelede by sy huis in Switserland besoek.

Todt het destyds gesê dat Schumacher nog dapper teen sy toestand baklei.

“Hy het ’n ongelooflike vrou aan sy sy, hy het sy kinders en verpleërs; ons kan hom en sy gesin net sterkte toewens.”

Riederer het egter ’n baie meer somber prentjie geskilder.

Foto: ANA.

“Ek dink hy is in ’n vegetatiewe toestand wat beteken dat hy wakker is, maar nie reageer nie,” het Riederer aan ’n Franse TV-stasie gesê.

Volgens die chirurg kan Schumacher waarskynlik regop sit en met moeite enkele treë stap, maar dit is waarskynlik die toppunt van sy vermoë.

“Is daar enige kans dat die wêreld hom weer sal sien soos wat hy vóór sy ongeluk was? Ek dink werklikwaar nie so nie.”

Dit is egter onbekend of Riederer ’n besoek aan die Schumacher-huis gebring het.

Maroela Media het vroeër berig dat die F1-legende binnekort deur dr. Phillippe Menasche, ’n wêreldbekende Franse kardioloog, geopereer sou word in ’n poging om sy senuweestelsel te herstel.

Maar volgens die Sunday Express was Schumacher se familie bekommerd oor die gevare wat Covid-19 inhou.

Volgens The Guardian sal die operasie heroorweeg word sodra die gesondheidsrisiko’s van die pandemie minder is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Kom terug Michael….al wat ons nou het is Lewis Hamilton……’n gogga in ‘n motor! Het besluit om eers weer F1 te kyk die dag dat Hamilton nie meer deelneem nie. Kyk nou MotoGP….lekker!

antieke antie ·

ek is n groot schumacher fan veral vir sy talent as renjaer…. hy het my altyd aan my seun heriner [wat dood is]… en ek wou hom terug he …met schumi se toestand nou besef ek…my trotse seun sou nie so wou leef nie …en omdat God geweet het ek gaan gestremd word en hom nie kon versorg nie ….daarom het hy my seun weer geneem…. sterkte aan almal wat wel hulle geliefdes so kon behou

ChrisWs ·

Ek voel vir Michael Schumacher EN sy familie.Ons was in ‘n motorongeluk en my vrou het ‘n breinbesering opgedoen.Sy is sederdien fisies gestremd en praat moeilik.Ek versorg haar en dis nie maklik nie.Bad ,harewas, toonnaels knip,aan en uittrek en AL die huiswerk ook die lot.Ja eks ‘n pensioenaris so ek het tyd maar dit bly ‘n uitdaging glo my.

pompies ·

Michael was n waardige kampioen wat nie politiek ens by sy sport betrek het nie en nog steeds is die beste wat die weeld gehad in F1. Anders as die F1 kampioen wat tans politikus en renjaer wil wees, wat n komediant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.