Nick die kampioen in Washington

Nick Kyrgios vier sy oorwinning in Washington. Foto: Patrick Smith/Getty Images via AFP.

Nick Kyrgios is die wenner van die Citi-ope nadat hy Yoshihito Nishioka van Japan met 6-4 en 6-3 in die eindstryd in Washington geklop het.

Dit was die vurige Aussie se sewende ATP-titel.

“Dit is ’n baie emosionele oomblik vir my. As ’n mens na die vordering kyk wat ek in ’n jaar se tyd gemaak het; dit is ’n ongelooflike prestasie,” het Kyrgios gesê.

“Ek is mal oor hierdie baan en ek het al soveel goeie wedstryde hier gespeel. Ek is in my skik met my vertoning.”

Terselfdertyd het hy die eerste speler in die toernooi se geskiedenis geword om met die enkelspel- én die dubbelspeltitel weg te stap.

Kyrgios het kragte met Jack Sock van die VSA saamgesnoer om Ivan Dodig en Austin Krajicek in die dubbelspel-eindstryd met 7-5 en 6-4 te klop.

“Ek was in ’n baie donker plek in my lewe en ek is trots op die deursettingsvermoë wat ek getoon het om aan te hou speel en toernooie soos dié te wen.”

Kyrgios se loopbaan word nie net deur ongelooflike houe (soos ’n onderarm-tussendeur-die-bene-afslaan) gekenmerk nie, maar ook deur sy kort humeur en uitbarstings op die tennisbaan.

Stefanos Tsitsipas het hom tydens hul wedstryd op Wimbledon onder meer as ’n boelie uitgekryt en gesê dat hy met sy gedrag sy teenstanders van stryk probeer bring.

“Hy maak die heeltyd van boelie-taktiek gebruik om tenniswedstryde te wen en ek glo hy was self ’n boelie op skool. Ek het nie tyd vir sulke mense nie. Hy beskik weliswaar oor ’n paar goeie karaktereienskappe, maar hy het beslis ook ’n donker kant,” het Tsitsipas ná afloop van hul Wimbledon-kragmeting aangevoer.

Op sy beurt het Kyrgios, wat uiteindelik in die Wimbledon-eindstryd teen Novak Djokovic vasgeval het, sy teenstander se bewerings afgelag.

“Ek sou ook ongelukkig gewees het as ek twee keer in ’n ry teen iemand verloor het. Dalk moet hy my eers wen voordat hy sulke goed kwytraak.”

Maar wanneer Nick Kyrgios speel soos wat almal weet hy kan, dan is hy ’n baie kranige tennisspeler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.