Niks is Grieks vir Stefanos op tennisbaan

Griekeland se Stefanos Tsitsipas het met ’n paar ongelooflike houe teen Jannik Sinner vorendaggekom. Foto: Aaron Francis/AFP.

Stefanos Tsitsipas is nou wel in Athene gebore, maar Woensdag was niks Grieks vir hom op die tennisbaan nie.

Robbie Koenig en Mark Philippoussis het Woensdag vanuit die kommentatorshokkie gesê dat Stefanos Tsitsipas die beste tennis van sy lewe speel.

En jy gaan sukkel om hulle verkeerd te bewys.

Die jong Griek het verspot maklik met Italië se Jannik Sinner afgereken om met 6-3, 6-4 en 6-2 vir die halfeindstryd van die Australiese Ope in Melbourne te kwalifiseer.

Sy afslane was eksieperfeksie, terwyl hy die Italianer met kragtige houe op die agtervoet gedwing het.

Selfs toe ’n paar druppels reën veroorsaak het dat die dak van die Rod Laver-baan toegemaak word, het hy blitsig by die nuwe omstandighede aangepas.

“Dinge het vandag net klopdisselboom vir my uitgewerk. Ek het geweet dat ek teen ’n baie goeie speler kragte meet en ek het op my beste houe probeer fokus, terwyl ek baie tevrede met my afslane is. O ja, oudergewoonte is die toeskouers se ondersteuning net pleinweg ongelooflik,” het Tsitsipas ná die wedstryd gesê.

Hoewel al twee spelers vier kishoue afgevuur het, het die Griek se afslane doodeenvoudig net meer woema gehad en hy het ’n spul punte daarmee aangeteken.

Ná vandag se aksie moet hy aan enigiets in Melbourne gewoond wees: Hy het nou blitsig met Sinner klaargespeel, terwyl dit hom vroeër vyf moordende stelle geverg het om met Taylor Fritz in die vierde ronde af te reken.

Rusland se Daniil Medvedev en Kanada se Felix Auger-Aliassime speel in nog ’n kwarteindstryd later vandag.

In die vroue-afdeling het die VSA se Danielle Collins en Pole se Iga Swiatek hul plekke in die halfeindstryd bespreek.

Uitslae:

Iga Swiatek klop Kaia Kanepi met 4-6, 7-6 en 6-3.

Danielle Collins klop Alizé Cornet met 7-5 en 6-1.

Stefanos Tsitsipas klop Jannik Sinner met 6-3, 6-4 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.