No. 21: Novak, Roger wens Rafa geluk

Rafael Nadal spog met sy Australiese Ope-trofee. Foto: Martin Keep/AFP.

Rafael Nadal het gister op die Rod Laver-baan waarskynlik met die grootste terugvegpoging van sy lewe vorendaggekom om Daniil Medvedev in vyf stelle in ’n titaniese Australiese Ope-eindstryd te klop.

Sodoende het hy nie net vir die tweede keer in sy roemryke loopbaan die silwerware in Melbourne omhoog gehou nie, maar ook sy 21ste Grand Slam-titel ingeoes; ’n nuwe rekord onder manspelers.

Kort ná sy sege het Roger Federer en Novak Djokovic – die twee spelers met wie Nadal in ’n Grand Slam-resies gewikkel is – hom met sy prestasie geluk gewens.

Die 40-jarige Federer se knieoperasies hou hom al ’n geruime tyd weg van die baan, maar hy was vinnig om Nadal se lof op sosiale media te besing.

Roger Federer en Nadal. AP Photo/Pavel Golovkin)

“Dit is verstommend om te dink dat ons al twee net ’n paar maande gelede mekaar oor ons krukke geterg het. Wys jou net: ’n Mens moet nooit ’n groot kampioen onderskat nie,” het Federer gesê.

“Jou ongelooflike werketiek, toewyding en veggees is vir tennisliefhebbers wêreldwyd ’n inspirasie.”

Djokovic was op sy beurt ook beïndruk met die Spanjaard se veerkragtigheid.

Hoewel die 34-jarige Serwiër se deportasie beteken het dat hy glad nie sy titel kon verdedig het nie, het hy vir Nadal met sy “ongelooflike prestasie” gelukgewens.

“Jou indrukwekkende veggees het weer eens die wa deur die drif getrek. Enhorabuena (baie geluk),” het Djokovic getwiet.

Die wenner van nege Australiese Ope-titels (in 2008, 2011, 2012, 2013, 2015, 2016, 2019, 2020 en 2021) was ook in sy skik met Medvedev se vertoning.

Hoewel die toeskouers die 25-jarige Rus as die skurk in die verhaal beskou het, het hy gereeld met uitstekende spel vorendag gekom.

“Daniil het sy beste gegee, terwyl hy met die passie en vasberadenheid gespeel het wat ’n mens nou al van hom verwag,” het Djokovic gesê.

Gladdebek Kyrgios

As Medvedev met die skurk-etiket om sy nek moet rondloop, dan is Nick Kyrgios, dubbelspelkampioen, ongetwyfeld die wenner van die kattekwaad-trofee.

Die 26-jarige Aussie het weliswaar saam met Thanasi Kokkinakis die dubbelspeltitel verower, maar sy omstrede sêgoed het gereeld sy teenstanders (en ’n hele paar tennisliefhebbers) die vieste ingemaak.

Kyrgios het onder meer aangevoer dat een van sy teenstanders se afrigter hom ná ’n wedstryd met die vuiste wou bydam, terwyl hy ook meen dat hy gewilder as Ashleigh Barty is.

“Ek sou sê dat ek waarskynlik vir die beste stadion-atmosfeer in die geskiedenis van die toernooi verantwoordelik is. Ja, Ashleigh (die uiteindelike vroue-kampioen) is ’n uitstekende speler, maar die stadion is volgepak wanneer ek speel,” het Kyrgios gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amelia ·

Jammer vir Djokovic alhoewel ek ‘n groot Nadal aanhanger is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.