No. 21 wink vir Rafa

’n Vurige Rafael Nadal het vanoggend vir Matteo Berrettini in vier stelle geklop om vir die Australiese Ope-eindstryd te kwalifiseer. Foto: Willam West/AFP.

In die tenniswêreld is daar maar net een Rafael Nadal.

Die Spaanse matador het vandag onder dak vir Matteo Berrettini gestoomroller om met 6-3, 6-2, 3-6 en 6-3 in Melbourne te wen. Sodoende het hy vir sy sesde Australiese Ope-eindstryd gekwalifiseer.

En wanneer hy Sondag teen óf Stefanos Tsitsipas óf Daniil Medvedev op die Rod Laver-baan kragte meet, kan geskiedskrywers maar gerus nader staan.

Want as die 35-jarige Nadal met die louere sou wegstap, sal hy 21 Grand Slam-titels agter sy naam hê – ’n nuwe rekord.

Maar kort nadat hy sy halfeindstryd beklink het, was dit duidelik dat hy hom nie dadelik te veel aan moontlike titels en rekords steur nie; al wat vir hom saak maak, is dat hy weer mededingende tennis kan speel.

’n Voetbesering het hom verlede jaar vir ’n hele paar maande langs die baan gehou en die tennislegende het erken dat hy begin twyfel het of hy ooit weer op die groot verhoog sou afslaan.

“Almal weet ek hou meer daarvan om wedstryde in die buitelug te speel, maar ek was mal oor die atmosfeer vandag. Om eerlik te wees maak dit nie saak of dit onder dak is of nie; ek speel tennis en dit laat my glimlag,” het Nadal gesê.

Hy het sy openingsalvo’s in die eerste twee stelle van die kragmeting as van sy beste tennis in ’n lang ruk beskryf en die stomme Berrettini moes omtrent bontstaan.

Ja, die jong Italianer het sy voete in die derde stel gevind, maar dit is deksels moeilik om ’n terugvegpoging teen ’n speler van Nadal se kaliber van stapel te stuur.

“Ek het vooraf geweet dat Matteo ’n baie gevaarlike speler is. My afslane was glad nie goed in die derde stel nie, terwyl hy met ’n paar ongelooflike houe vorendag gekom het. Soms is dit egter belangrik dat ’n mens op die baan sukkel en aanhou baklei.”

En selfs al praat hy nou grotendeels van sy dankbaarheid om terug op die baan te wees, sal Rafael Nadal hierdie Sondag hand en tand vir sy 21ste Grand Slam-titel baklei.

Dit is doodeenvoudig net in die Spanjaard se DNS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kirst

Op die foto lyk dit of hy ‘n “quick tan” ongeluk gehad het

Emile

As novak djokovic daar was sou daar beslis n ander resultaat gewees het