No. 50 wink vir immergroen Jannie op Bergrivier

Die immergroen Jannie Malherbe in aksie. (Foto: Verskaf)

Jannie Malherbe antwoord Vrydagoggend sy selfoon in ʼn sterk en helder stem. Soos wat die gesprek vorder, sukkel jy so ʼn bietjie om te glo dat hy al in sy tagtigs is en binnekort sal poog om die Bergrivier-kanomarathon vir ʼn ongelooflike 50ste keer te voltooi.

Hy klink dan na ʼn veel jonger persoon.

“Ek is op 28 November 1939 op Wellington gebore. Ek is dus 83 en ʼn half jaar oud; nie 84 soos wat daar al in die media gesê is nie,” vertel hy laggend.

Malherbe woon al die afgelope 40 jaar op George waar hy saam met sy gesinslede toesig oor ʼn suksesvolle verfkontrakteursonderneming hou. Hulle het juis nou weer ʼn woonstelblok van ʼn hele paar verdiepings hoog netjies met roller en verfkwas afgerond.

“Ek is nog nie van plan om af te tree nie. Waarom wil jy dit doen as jy nog gesond is? Ek dink dit is die grootste onding om mense op 65-jarige ouderdom te laat aftree want dan haal jy as’t ware die kennis uit die mark.”

Hy glo in ʼn daaglikse glasie rooiwyn, terwyl hy ook gereeld oefening inkry.

“Wanneer ek Saterdagoggend hier teen 10 uur die koerant klaar gelees het, weet ek nie wat om te doen nie. Dan gaan roei ek of vang vis.”

Maar terug na sy kanovaartavonture op die Bergrivier. Hy was deel van die ikoniese marathon se grootwordjare en hy kan nou met trots terugkyk na ʼn hele paar indrukwekkende vertonings.

Malherbe het in 1962 vierde in die heel eerste wedvaart ooit tussen die Paarl en Velddrif geëindig. In die daaropvolgende jare het hy ook ʼn hele paar keer – op ʼn streep, nogal – met die louere weggeroei.

Die Burger was destyds die hoofborg en die Berg het nie net roei in die Kaap op die voorgrond geplaas nie, maar ook in die hele Suid-Afrika. In daardie jare was ons roeiers celebs gewees; jy kon nie in die strate gestap het sonder dat iemand jou herken nie.”

Hy het weliswaar vir ʼn rukkie sy kano weggebêre, maar kort voor lank was hy weer volstoom aan’t roei en “Nommer 50” sal in vet letters langs sy naam pryk wanneer hy nóg ʼn Berg-vaart voltooi.

Tog skeel die syfer hom nie veel nie.

“Of dit nou nommer 49 of nommer 50 is, dit is maar eintlik net nog ʼn getal – al stem my seun glad nie met my saam nie. Vir my deel die Berg my jaar mooi in twee: Einde Januarie begin ek vir die wedvaart voorberei en wanneer dit verby is, is dit hengeltyd. As ek nie roei nie, stap ek elke naweek tot vyf kilometer op die seesand (met ’n visstok in die hand).”

Malherbe by die eerste Bergrivier-avontuur in 1962. (Foto: Verskaf)

Hoogtepunte van sy roeiloopbaan sluit die Springbok-kleure en meegaande internasionale toer van 1967 in, terwyl die nasionale kampioenskap ook gereeld vir goeie herinneringe sorg.

Malherbe was al die Suid-Afrikaanse kampioen in omtrent elke denkbare ouderdomsgroep, terwyl hy in 2017 ook by die Wêreldkampioenskap water in sy teenstanders se oë geskop het.

“ ʼn Mens moenie windgat raak nie, want hoeveel mense ouer as 75 neem nog deel? Daar was wel  ʼn sterk deelnemer uit Swede, maar ek kon hom goed pak slae gee.”

Hy is egter oorgehaal om sy stempel op nóg ʼn Berg-vaart af te druk.

“Elke Bergrivier is anders; daar is nie een wat ooit dieselfde is nie. En deur die jare is dit die moeilikes wat jy onthou – jy het nie veel herinneringe van die kere waar die roete na Velddrif met ʼn piekniek vergelyk kon word nie.”

Daar was al kere waar die pylvaksessies so erg deur wind en hael ontwrig is dat helikopters dit nie gewaag het om op te styg nie, terwyl ʼn spul deelnemers ook onttrek het met die eindstreep in sig.

Volgens Malherbe lyk die Bergrivier taamlik mak, maar jy moet hom nie onderskat nie.

“ ʼn River is ʼn snaakse ding. Water wat teen ʼn rotswand spoel kom weer terug, maar die Berg is vol bome wat omgeval het; en hy kan jou onder hulle invat.

“Afstand is ook ʼn faktor – op die derde dag moet jy 72 km aandurf. Dit is sewe uur wat jy op jou agterent sit en jou arms swaai. Dit is moeilik, maar jy maak kláár.”

En Jannie Malherbe is iemand wat al vir byna 84 jaar nie sommer handdoek ingooi nie. Maak nie saak hoe onverwags die lewe se vaartversnellings is nie.

  • Die Bergrivier-kanomarathon word van 5-8 Julie beslis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.