Nóg beter nuus vir Brad Binder

Brad Binder. Foto: KTM

Daar is reeds vroeër berig dat Brad Binder in 2020 na die premierklas van MotoGP gaan opskuif, maar nou het die nuus nóg beter geword vir die talentvolle Suid-Afrikaner.

Binder het in 2011 sy loopbaan in Moto3 begin en sy talent was onmiddellik sigbaar en KTM was gou om hom op te raap. Ná sy 2016 Moto3- wêreldkampioenskap vir KTM het Binder na die KTM Moto2- span geskuif en weer eens bewys watter aanwins hy vir enige span is.

In die pas afgelope Australiese wedren in Phillip Island het Binder eerste oor die wenstreep gejaag met sy spanmaat Jorge Martin in die tweede plek. Binder staan nog ’n buitekans om die 2019 Moto2- wêreldkampioenskap te wen. Met net twee wedrenne oor in 2019 moet iets egter drasties skeefloop vir Alex Marquez, wat tans voorloop op die punteleer, vir Binder om hom verby te steek.

In 2020 gaan die uitdaging vir Binder net soveel groter wees. Hy het in Julie ʼn kontrak geteken met die Red Bull KTM Tech3 MotoGP- span. In die MotoGP-klas het die groot vervaardigers ’n fabriekspan en ook ’n satellietspan wat meeding. Die satellietspan is ’n private span wat dan toegang het tot die fabriekspanfietse. Hierdie fietse is gewoonlik ondergeskik aan die fabriekspanfietse, maar in die regte hande is hierdie fietse net so kompeterend. Die Tech3-span is KTM se satellietspan.

Brad Binder. Foto: KTM

KTM se fabriekspan het bestaan uit Pol Espargaro en die Fransman Johann Zarco. Hoewel Zarco sakke vol talent het, kon hy nooit gemaklik raak op die KTM RC16 nie. Tot dusver vanjaar was sy beste vertoning ’n tiende plek in Spanje.

Zarco en KTM het toe besluit om hulle vennootskap voor die einde van sy kontrak te beëindig. Met Zarco uit die prentjie het die deur oopgegaan vir Binder om verder op te skuif na die fabriekspan.

Brad Binder. Foto: KTM

KTM het verlede week aangekondig dat Binder by Pol Espargaro sal aansluit in die Red Bull KTM Factory Racing-span. Sy plek in die Tech3-span sal ingeneem word deur die Spanjaard Iker Lecuona.

Pit Beier, direkteur van KTM Motorsport, het besef dat hulle 2020-planne moes verander ná-Zarco se vertrek. Binder het nou al deur die KTM struktuur beweeg en Beier is vas oortuig dat Binder se rystyl en sy ingesteldheid KTM in die regte rigting gaan stuur. Met Binder se sege in die Moto2-klas dié naweek het Beier sy punt bewys.

Persoonlik dink ek dat Binder die een persoon sal wees wat die KTM RC16 MotoGP-motorfiets tot sy uiterste sal kan druk. Ek sien uit om volgende jaar die naam van die nederige seun uit Potchefstroom saam met name soos Rossi en Marquez in die topklas te sien!

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

En nou? ·

Well done, Brad! Ek het gister met hoendervleis gesit en kyk hoe ry jy al daardie makkers m*er toe!
Kan nie wag om jou volgende jaar langs Valentino te sien of nog even beter, voor Rossi te sien nie!

Theresa ·

Moto GP is sekerlik die mees opwindenste van alle sport soorte! GEEN KWOTAS, slegs talent! Sekerlik van die fikste en taaiste sportmanne van alle sporte. Ry teen 300km/ph met gekraakte ribbes en gebreeke bene.
Mooi so BRAD, ten minste is jy trots Suid Afrikaans! (Rugby is nou my 2de keuse as dit by sport kom)

Dubbelloop ·

Baie geluk Brad, jy het uitstekend gedoen die afgelope 3 jaar vandat jy Moto 3 kampioen was. Ek sien ook baie uit om jou volgende jaar te sien jaag in Moto GP.

Brand ·

Die oud Potchestromer het regtig hope talent, sy broer ook maar hy het nie Brad se geduld nie, en dit maak n groot verskil. Ek dink nie mens besef wat die ou bereik het nie, Italiaanse en Spaanse ryers kry baie hulp van die staat af, die Binders doen dit op eie houtjie. Ek hoop Brad wen n “race” in die premier afdeling, maar ons moet ook besef KTM is nie heeltemal op die selfde vlak as die 3 groot vervaardigers nie, maar miskien verras hulle ons volgende jaar. Kan nie wag vir 2020 nie.

Vita ·

Brad het baie talent en volgende jaar gaan hy saam die groot manne ry in MotoGP hoop het KTM gee hom n baie goeie bike om goed te doen, sien uit daarna hoe hy sal doen

Kobus du Toit ·

Baie geluk Brad en sy ouers wat al baie opgeoffer het.
Maar, help my tog ek is dom. Wanneer en in watter skool was Brad in Potchefstroom.
Ek was onder die indruk die Binder gesin is van Krugersdorp?
Dit maak steeds geen verskil aan hulle besondere prestasie nie.
Mooi loop,
Oom Kobus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.