Nog geen permitte vir Twee Oseane-marathon

(Foto: Twee Oseane Marathon/Facebook)

Die Kaapstad-stadsraad sê permitte vir vanjaar se Twee Oseane-marathon, wat oor Paasnaweek plaasvind, is nog nie uitgereik nie.

Die stadsraad het klagtes van kerke en ander organisasies ontvang omdat die marathon op Paassondag plaasvind en kerkgangers sal dus nie dienste kan bywoon nie.

Die stadsraad is steeds in gesprek met die organiseerder van die marathon om dringend die kwessies op te los. Deel van die stadsraad se permitteproses vereis dat organiseerders van ʼn byeenkoms deeglik met betrokke partye sal konsulteer. Organiseerders moet ook verligtingsmaatreëls aan betrokke partye voorhou.

“Wat betref vanjaar se Twee Oseane-marathon het die stad op verskeie geleenthede, sedert November 2021, die belangrikheid van gesprekke met kerke en ander betrokke groepe aan die organiseerders van die byeenkoms beklemtoon,” het die stadsraad in ʼn verklaring gesê.

“Stad Kaapstad besef die belangrikheid van godsdienstige instansies in ons samelewing en respekteer die Grondwetlike regte van Christene om kerkdienste oor die Paastyd by te woon.”

Die organiseerders het onderneem om oor die volgende paar dae met die betrokke partye te vergader om die probleme op te los.

Die volgende paaie sal na verwagting deur die marathon geraak word:

  • Mainweg van Muizenberg na Vishoek sal tussen 05:45 en 08:30 gesluit wees (plaaslike toegang slegs tussen Kalkbaai (Clairveauxweg) en Muizenberg (Atlanticweg)
  • Kommetjieweg van Mainweg tot Corsairweg sal tussen 05:30 en 08:30 gesluit wees (die verkeer sal die westelike bane deel terwyl hardlopers die oostelike bane sal gebruik)
  • Chapmans Peakrylaan sal van 03:30 – 10:30 gesluit wees.

Klik hier vir meer inligting
Vir inligting oor paaie wat op 16 April vir die halfmarathon gesluit sal wees, klik hier
Vir inligting oor paaie wat op 17 April vir die ultramarathon gesluit sal wees, klik hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.