Nóg ʼn beste sedert 1967 vir die Proteas

Lenize Potgieter, die Proteas se hoofdoel,
was op haar stukke teen die Aussies (Foto: Twitter via @GilbertNetball)

Suid-Afrika is onteenseglik besig om die gaping tussen hulle en die wêreld se voorste netbalspanne te laat krimp.

Soos verlede week toe die Proteas met sewe doele teen Nieu-Seeland verloor het, was hulle doeleverskil van ses Woensdag teen Australië ook hulle beste vertoning sedert 1967 teen die Aussies.

Amper, ja, maar die deurbraak bly die Proteas ontwyk. Die Australiese Diamonds was met rukke onder groot druk, maar het die wedstryd in Canberra met 58-52 gewen.

Die vinnige wegspring deur die Diamonds het die Proteas aanvanklik effe onkant betrap, maar hulle het gou herstel en was ná die eerste kwart net 11-14 agter.

Toe trek die Suid-Afrikaners weg en laat die Australiërs benoud rondskarrel in ʼn  tweede kwart wat met 16-13 deur die Proteas gewen is.

Die twee spanne het dus die rustyd op 27-elk binnegegaan.

Dit was, soos teen die Kiwi’s oor die naweek, weer die derde kwart wat die Proteas gesink het.  Australië het dié kwart met 17-12 gewen en die laaste kwart met ʼn voorsprong van vyf doele (44-39) binnegegaan.

Die Aussies het die laaste kwart met 14-13 gewen en die wedstryd met 58-52 beklink.

Anders as teen Nieu-Seeland het Suid-Afrika ʼn uitstekende 90% doelgemiddelde gehandhaaf en boonop hierdie keer ook minder onderskeppings as hulle teenstanders (30-34) afgestaan.

♦  Engeland het sy tweede wedstryd teen Nieu-Seeland in Auckland met 49-45 gewen. Dit was vir Engeland ʼn deurbraak nadat hulle in 88 toetse nie teen Nieu-Seeland kon wen nie.

♦  Suid-Afrika speel Sondag in Invercargill in Nieu-Seeland teen die Engelse Rose terwyl Nieu-Seeland op tuisbodem teen die Kiwi’s in die laaste wedstryd van die 2017-gedeelte van die Quadreeks teen Australië speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.