Nog ʼn brons vir SA se Chad le Clos

Die VSA se Caeleb Dressel (goud) saam met Rusland se Andrei Minakov (silwer) en Suid-Afrika se Chad le Clos (brons) na afloop van die mans 100m vlinderslagfinaal in Gwangiu, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man/AP)

Chad le Clos het Saterdag Suid-Afrika se derde medalje by die Wêreld-langbadkampioenskap in Suid-Korea ingepalm toe hy ʼn bronsmedalje in die 100 m‑vlinderslag verower het.

Die 27-jarige het in 51,16 sekondes in die derde plek klaargemaak, agter Amerika se nuwe wêreldrekordhouer, Caeleb Dressel, wat goud gevat het in ʼn rekordtyd van 49,66 sekondes. Rusland se Andrei Minakov was in die tweede plek in 50,83 sekondes.

Le Clos het daarin geslaag om die muur te raak net ʼn tiende van ʼn sekonde voor Hongarye se Kristof Milak, ʼn gouemedaljewenner in die 200 m‑vlinderslag.

“Ek is persoonlik gelukkig, nie met my vertonings nie, maar omdat ek ʼn medalje verower het,” het Le Clos gesê, wat onlangs met ʼn liesbreuk gesukkel het. “Gegewe die omstandighede was dit ʼn goeie week. ʼn Paar weke gelede het ons nie geweet of ek sou swem of nie, so om hierheen te kom en twee bronsmedaljes te wen, is wonderlik.”

Suid-Afrika se Zane Waddell het later in die aandsessie ʼn plek in die finaal van die 50 m‑rugslag bespreek toe hy derde in die semifinaal in 24,72 sekondes klaargemaak het.

In die oggendsessie het Tatjana Schoenmaker tydens die 50 m‑borsslag versuim om ʼn plek in die semifinaal vas te maak. Net ure nadat sy Suid-Afrika se eerste vroulike medaljewenner by ʼn langbadkampioenskap geword het deur silwer in die 200 m‑borsslag te verower, was die swemmer van Pretoria terug in die water vir ʼn korter afstand. Haar tyd van 31,3 sekondes was egter net goed genoeg om algehele 17de plek te behaal.

Intussen was Erin Gallagher die 27ste vinnigste in die 50 m‑vryslag in 25,48 sekondes.

Suid-Afrika se gemengde 4×100 m‑vryslag-aflosspan, Chris Reid, Ryan Coetzee, Emma Chelius en Tayla Lovemore, kon ook nie finaal haal nie en het algeheel 17de gekom.

Sondag sal Ayrton Sweeney aan die uitdunne van die 400 m individuele wisselslag deelneem.

Rebecca Meder sal die enigste Suid-Afrikaanse verteenwoordiger in die vroue-item wees, terwyl Suid-Afrika ook spanne in die 4×100 m-aflosuitdunne vir beide mans en vroue sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.