Nóg ’n loesing in Sun City

Shadine van der Merwe is aangewys as Speler van die wedstryd (29 November 2020) (Foto: Netbal SA/Twitter)

Die gemiddelde telling tussen die Protea-netbalspan en Malawi vóór verlede week was 49 – 44 in Suid-Afrika se guns.

Maar ná die huidige reeks tussen die twee lande sal spanbestuurders en wedstrydontleders hul sakrekenaars moet nadertrek want die Proteas het die arme besoekers omtrent in Sun City verrinneweer.

Dorette Badenhorst se span het vandag weer eens die krane oopgedraai om die wedstryd met 69 – 28 te wen. Dít nadat die Proteas die vorige kragmetings onderskeidelik met 65 – 25 en met 62 – 29 gewen het.

Lenize Potgieter en Lefébre Rademan het in die doelsirkel geskitter, terwyl Shadine van der Merwe en Phumza Maweni gesorg het dat Malawi-doele so skaars soos hoendertande is.

Afrigter Badenhorst het op die vooraand van die reeks gesê dat sy haar span met die oog op die 2023 Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad gekies het. Sy wou dus vir jong spelers kans gegee het om hul staal op die internasionale verhoog te wys en spelers soos Sne Mdletshe en kie het beslis nie teleurgestel nie.

Dit was egter duidelik dat die Malawiërs nie wedstrydfiks is nie. Maak nie saak hoe hard ’n speler op haar eie aan fiksheid en vaardigheid skaaf nie; ’n wedstryd bly maar net ’n perd van ’n ander kleur.

Hoe die kwarte gelyk het:

  • Eerste kwart: 14 – 9 (Suid-Afrika)
  • Tweede kwart: 22 – 7 (Suid-Afrika)
  • Derde kwart: 20 – 4 Suid-Afrika)
  • Vierde kwart: 13 – 8 (Suid-Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.