Nóg ’n oudspeler sê Federer kan steeds Wimbledon wen

Roger Federer. Foto: Ben Stansall/AFP.

Ja, Roger Federer het aangedui dat hy vanjaar se Australiese Ope in Melbourne gaan misloop, maar dit beteken nie dat sy triomfdae iets van die verlede is nie.

Maroela Media het verlede jaar berig dat Marion Bartoli – ’n voormalige Grand Slam-wenner – meen dat Wimbledon Federer se beste kans is om sy 21ste Grand Slam-titel te wen.

“Die grasbane pas sy manier van speel soos ’n handskoen en hy sal nie sommer daar rondgejaag word nie. As hy genoeg momentum en selfvertroue het, sal hy beslis wen,” het Bartoli gesê.

Hierdie sienswyse word deur die Aussie-tennisheld Todd Woodbridge in ’n onderhoud met Channel 9 onderskraag.

“Ek dink Roger se hoofdoelwitte sal die Olimpiese Spele en Wimbledon wees. In hierdie stadium van sy loopbaan voorsien ek dat Wimbledon sy beste kans is om nog ’n titel te wen.”

Volgens Todd sal swak prestasies aan Federer begin knaag.

“ ’n Speler met sy talent en vaardighede sal een of ander tyd begin wonder waarom hy in kwarteindstryde uitgeskakel word wanneer hy daaraan gewoond is om in die eindstryde te speel. Dit verskaf nie meer die nodige adrenaliendoepa nie en dan begin jy daaraan dink dat die lewe oor meer as net tennis gaan.”

Tog het Federer self in die verlede aangedui dat hy nog vir groot tennis lus is. En soos wat Todd gesê het, is die Olimpiese Spele in Japan sy hoofprioriteit.

“Ek is mal oor Tokio; dit is ’n wonderlike plek. Natuurlik is dit ’n groot teleurstelling dat die Spele uitgestel is, maar ons is vol hoop dat dit wel kan voortgaan. Dit is my doelwit om deel van die Olimpiese Spele te wees; dit het nog altyd vir ’n ongelooflike storie gesorg,” het die Switserse tennisster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.