Nog ’n rekord tuimel voor Hamilton

Wenner Lewis Hamilton (Mercedes) in die middel, Max Verstappen (Red Bull) (links) en Valtteri Bottas (Mercedes) regs (16 Augustus 2020) (Foto: Alejandro Garcia, Pool via AP)

Ná al die opwinding en drama in Sondag se MotoGP-motorfietsren in Spielberg was die tafel gedek vir die Spaanse Formule Een-Grand Prix in Barcelona, maar dit het baie sleg daarby afgesteek.

Maar niemand kan dit ontken nie, dis omdat Lewis Hamilton (Mercedes) se span kop en skouers bo die res uittroon, hy meesterlik bestuur en ongetwyfeld vanjaar die sewende keer as wêreldkampioen gekroon sal word, tensy iets onvoorsiens gaan gebeur.

Hamilton het een van die maklikste oorwinnings van sy loopbaan behaal toe hy 23 sekondes voor Max Verstappen (Red Bull) geëindig het.

Hamilton se Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, was derde, gevolg deur Lance Stroll (Racing Point), Sergio Perez (Racing Point) en Carlos Sainz jr. (McLaren).

Vir die rekordboeke en fynproewers:

  • Dit was Hamilton se ongelooflike 156ste podiumplek in 256 renne.
  • Dit was Hamilton se 88ste loopbaansege en hy is nou net drie oorwinnings kort van Michael Schumacher se rekordgetal van 91.
  • Dit was Hamilton se vierde oorwinning van die seisoen (wat baie onlangs eers begin het weens Covid-19).

Hamilton is reeds 37 punte voor Verstappen op die puntelys en wie kan hom inhaal as dit só aangaan?

Dit was só eentonig dat Hamilton aan sy span laat weet het dat hy nie besef het dat dit die laaste rondte was nie. Kan iemand daarteen stry dat dit eentonig was?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
koos10

Eentonig voorlangs, ja. Selfde was dit met Schumacher ook. Maar om nou Mercedes te wil beperk met die “Quali mode” is mal. F1 wil maak soos die regering in SA, plaas die ander spanne haal in, wil hulle eerder die top span af bring. Ten miste sorg Ferrari vir bietjie opwinding, op en van die baan af. Racing Point word gestraf omdat hulle te goed word vir Ferrari en Red Bull, maar Ferrari kom skotvry daar van af en niks word openbaar gemaak nie, toe hulle laas jaar met onwettighede betrap word. Nou is dit die einste Ferrari wat aandring… Lees meer »