Nóg ’n rekord vir Federer

Roger Federer. Foto: Greg Wood/AFP.

Hy mag dalk 39 jaar oud wees, maar Roger Federer is steeds een van die voorste spelers op die internasionale verhoog. Die Switserse ster het pas die oudste speler in die geskiedenis geword om die jaar onder die beste 100 spelers op die wêreldranglys af te sluit.

Federer het te midde van die deurmekaar Covid-19-sportjaar ’n blaaskans geneem om van sy knie-operasie te herstel. In die tydperk het hy gesien hoe Dominic Thiem die Amerikaanse Ope gewen het, terwyl Rafael Nadal sy rekord van 20 Grand Slam-titels geëwenaar het met sy 13de Franse Ope-titel op Roland-Garros.

Hy beplan egter om sy terugkeer by die Australiese Ope in 2021 te maak en Marion Bartoli glo dat Federer nog ’n Grand Slam-titel kan wen; Wimbledon is glo sy beste kans.

“Die grasbane pas sy manier van speel soos ’n handskoen en hy sal nie sommer daar rondgejaag word nie. As hy genoeg momentum en selfvertroue het, sal hy beslis wen,” het Bartoli, wat al self op Wimbledon koning gekraai het, gesê.

Verder het Novak Djokovic vir die sesde keer in sy loopbaan die jaar as die no. 1-speler op die ranglys afgesluit, terwyl Rafael Nadal vir die sewende keer in die tweede plek klaargemaak het.

Kevin Anderson (81ste) en Lloyd Harris (87ste) is Suid-Afrika se beste spelers.

  • Die amptelike ATP-ranglys:
  1. Novak Djokovic (Serwië)
  2. Rafael Nadal (Spanje)
  3. Dominic Thiem (Oostenryk)
  4. Daniil Medvedev (Rusland)
  5. Roger Federer (Switserland)
  6. Stefanos Tsitsipas (Griekeland)
  7. Alexander Zverev (Duitsland)
  8. Andrey Rublev (Rusland)
  9. Diego Schwartzman (Argentinië)
  10. Matteo Berrettini (Italië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.