Nóg ’n toernooi-terugslag vir Novak

Novak Djokovic. Foto: William West/AFP.

Novak Djokovic het op sosiale media bevestig dat hy nie deel van die aksie by twee van die grootste tennistoernooie in die VSA sal wees nie.

Die 34-jarige speler se inentingstatus beteken dat hy nie in die Indian Wells-toernooi óf in die Miami-ope sal kan afslaan nie.

“Hoewel ek outomaties vir die toernooie ingeskryf is, het ek – gegewe die VSA se toelatingsvereistes – geweet dat ek waarskynlik die daarheen sal kan reis nie,” het Djokovic getwiet.

Maar omdat Covid-19-regulasies gereeld verander, het die Serwiër eers gewag om te sien of hy wel toegang tot die VSA kan kry.

“Die CDC [Centre for Disease Control and Prevention] het egter bevestig dat daar geen verandering aan die toelatingsvereistes is nie.”

Djokovic se droom om sy 21ste Grand Slam- en tiende Australiese Ope-titel in Melbourne te wen is juis vroeër in die wiele gery toe sy inentingstatus onder meer gesorg het dat hy uit die land gedeporteer is.

Hy kon wel verlede maand in Dubai speel en hy het ’n heldeontvangs gekry toe hy vir sy eerste wedstryd op die baan gestap het.

Hy is egter in die kwarteindstryd deur Jiri Vesely uitgeskakel en hy is in die proses deur Daniil Medvedev as die wêreld se voorste speler onttroon.

Hoewel Djokovic gereeld in die spervuur oor sy inentingstatus is, het Patrick Mouratoglou (bekende tennisafrigter en -kommentator) sy raket ter verdediging van die speler geswaai.

Mouratoglou meen dat die Serwiese ster baie maklik die inenting-omstredenheid kon omseil het as hy net ’n plaaslike dokter genader het om te bevestig dat hy teen Covid-19 ingeënt is. Met sy status en aansien sou hy dit waarskynlik sonder veel moeite reggekry het.

Sodoende kon Djokovic in elke toernooi gespeel het en nóg ’n rits Grand Slam-titels sou heel waarskynlik in sy vertoonkas gepryk het.

“Hy het egter geweier om by enige verneukery betrokke te raak en hy staan pa vir sy eie besluite en keuses. Dit is ’n baie sterk boodskap van iemand wat getrou aan sy waardes en oortuigings bly; ’n outentieke persoon.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Geen berigte uit Dubai van dosyne Covid-slagoffers wat met die gevaarlik aansteeklike Novak in aanraking was nie.
Waansinnige wêreld waarin ons leef.
Nie eers ‘n dreigende Derde Wêreldoorlog ruk die mensdom tot besinning nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.