Nóg ’n uitmuntende sportprestasie!

Suid-Afrika se seëvierende vrouehokkiespan. Foto: Verskaf.

Daar was die Webb Ellis-beker, ’n Dubai-sewestitel en ’n Mejuffrou Heelal-kroon, maar jy sou waarskynlik die meeste Suid-Afrikaners met ’n veertjie kon omtik as jy hulle moes vertel dat Suid-Afrika ook yshokkie-kampioene sou oplewer.

Maar ná die week sal jy iewers ’n ekstragroot veer moet soek vir die omtik-werk, want Suid-Afrika se vroue-yshokkiespan is die huidige wêreldkampioen!

Die span is die wenners van die Internasionale Yshokkie-vereniging (IIHF) se Afdeling III-Wêreldkampioenskap nadat hulle skitterend in Bulgarye gevaar het.

Volgens Antoinette Botha, die spanbestuurder, het die span ’n soortgelyke pad as die Springbokke by hul Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gevolg.

“Nes die Bokke het ons dinge vir onsself moeilik gemaak deur ons eerste wedstryd teen Roemenië te verloor,” het Botha vanoggend aan Maroela Media gesê.

Maar soos wat enige sportsielkundige jou sal vertel, dit is hoe jy opstaan ná ’n nederlaag wat werklik wys van watter stoffasie jy gemaak is.

Die span het daarna met België, Hongkong, Bulgarye en Litaue afgereken.

“Elke wedstryd was ’n naelbyt-storie gewees en ons het definitief ’n hele paar grys hare bygekry. Maar ek dink die grootste wen was definitief teen België gewees; dit was die eerste keer in sewe jaar wat ons hulle kon klop. Hulle het dit glad nie verwag nie en was platgeslaan.”

Elke suksesverhaal begin gewoonlik iewers en volgens Botha is daar so drie jaar gelede net besluit om die spankultuur te verander.

“Vanjaar het alles net mooi in plek geval. Dis span is ’n hegte eenheid wat mekaar deur die hele toernooi ondersteun het. Dan het die bestuur en afrigters hulself ook uitstekend van hul taak gekwyt en ons is dankbaar dat die SA Yshokkie-vereniging vertroue in ons gehad het.”

Met hul sege in Bulgarye skuif die Suid-Afrikaners nou na ’n hoër afdeling waar die kompetisie baie strawwer sal wees.

“Ons volgende doelwit is om in dié afdeling te bly en te kompeteer met die oog om dan ook eendag die kampioene te wees. Daar is deesdae fantastiese geleenthede vir vroue-yshokkiespelers in Suid-Afrika. In Gauteng is daar vier ontwikkelingspanne en daar is ook nou ’n volwaardige vroueliga.”

Daar is ook individuele spelers wat in Bulgarye hul stemme dik gemaak het.

Chloe Schuurman is as Suid-Afrika se speler van die toernooi aangewys, terwyl Donne van Doesburgh die kampioenskap se beste verdediger was.

Die span keer môre terug en hulle verdien beslis ook ’n helde-ontvangs.

  • Die span se uitslae in Bulgarye:

4 – 11 teen Roemenië

4 – 3 teen België

2 – 1 teen Hongkong

2 – 1 teen Bulgarye

4 – 2 teen Litaue

  • Daar is yshokkiespanne in Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Oefenkampe word normaalweg in Gauteng aangebied waar onder andere by The Grove-winkelsentrum in Pretoria geoefen word.
  • Vir meer inligting oor Suid-Afrikaanse yshokkie, besoek gerus www.saihf.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos ·

Yshokkie in ‘n land waar ons meer ys in ons doppe gooi as wat ons natuurlik in die winter kry!!!!
Dames dit mag gedoen word.
Ek het self in my (baie) jonger dae geskaats en yshokkie gespeel, en ek is oortuig dit is een van die moelikste sporte in SA, veral omdat skaatbane so skaars en baie ver van mekaar is, die toerusting vrek duur is (alles moet ingevoer word, en jy het BAIE nodig) en kompetisie gewoonlik net in Europa en die VSA gekry kan word.

Maria ·

Huh nie geweet SA neem deel in yshokkie nie. Wow!! nog n goeie nuus baie baie geluk.!! Hoera!

bokka ·

Hoe kan jy wereldkampioen wees as jy in Afdeling 3 meeding? Dis mos mou pure bolla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.